Roosterbroodstalletjie al 24 jaar by KKNK

BO: Ds Johannes Paige en sy vrou, Joanie, saam met van die gemeentelede by vanjaar se 27ste KKNK. ONDER: Die bobaas roosterkoekbraaiers saam met die leraarspaar. Foto’s: Garnett Wicomb

“ONS kerk, Toekomsrus United Congregational Kerk, van Oudtshoorn is baie trots op ons roosterbroodstalletjie wat ons vanjaar, soos vorige jare, by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gehad het,” so sê die kerk se leraar, ds Johannes Paige.

Volgens ds Paige was vanjaar die 24ste jaar dat die kerk sy roosterbroodstalletjie neffens die CP Nel Museum bedryf, en waarvoor die kerk ’n groot dank aan die KKNK verskuldig is omdat dit ’n groot bydrae tot die kerk se geldkas lewer.

“Alhoewel ons fondse vir die kerk insamel lewer ons natuurlik ook ’n diens aan die gemeenskap en besoekers en gaan dit nie alles net oor geld nie,” sê Paige.

Volgens Paige is dit vir hulle ’n groot voorreg om nie net deel te wees van die fees nie, maar dat hulle ook die enigste kerk is wat by die fees ’n stalletjie het.

Hy vertel verder dat dit die kerk se rol is om nie net ’n diens te lewer nie, maar ook ’n goedkoop produk, en soms die produk gratis vir dié te gee wat nie geld het nie en dalk honger is, en so iets te ete kan kry.

Die stalletjie is al sinoniem met die fees, en kry hulle talle komplimente van feesgangers vir hul heerlike roosterkoeke.

“Ons grootste dank gaan egter aan ons Hemelse Vader vir die gawes waaroor ons gemeentelede beskik en vrywilliglik hul dienste beskikbaar stel, in die wind en die weer.” Gemeentelede is elke oggend tydens die fees by hul huise opgelaai en elke dag is op die regte manier begin, deur die hou van godsdiens en gebed. (Deur Garnett Wicomb)