Kortverhaal: Jan Stander

Deur Daniel Lötter

UIT die Klein Karoo kom daar ’n storie, so mooi en so romanties, dat dit die verbeelding van die mense in die laaste jare van die 19-de eeu aangegryp het.

En daaroor maak hulle toe ’n liedjie, wat vir baie, baie jare “weggeraak” het, totdat wyle tant Anna Stroebel dit in die 50-er jare weer opteken en oom Burger Gericke die wysie so bietjie regskaaf… en vandag is “Jan Stander” deel van ons kosbare Afrikaanse liedereskat.

Veral onder die volkspelers is dit ’n gewilde en bekende lied.

Die storie gaan so: Hier rondom 1875 is die eerste verebloeitydperk in volle swang.

Dit gaan vorentoe met die boere van die Klein Karoo – hulle is windmaker manne wat nie meer saamry nie, hulle ry nou heel voor.

Net aan die ander kant van die Outeniquas gaan dit nie so goed nie. Die “groen droogte” is op sy droogste, die geld is min…net die genade is genoeg.

Een ding weet almal wel: Dis algemeen bekend dat die meisies van die “Grasveld” (dis nou die streek aan die voet van die Outeniquas oor George tot teen Albertinia) die mooiste in die land is – die Klein Karoo se nooiens hou nie kers vas nie.

En die jong boere van die Klein Karoo saal spogperde op om oor die berg te gaan opsit.

So verneem Jan Stander van Leeublad in die Kannaland dat daar in die Grasveld ’n sekere ou oom Barnard is, ’n redelike vooruitstrewende boer (hoewel glad nie in die Standers se klas nie) wat ’n besondere mooi dogter het.

En Jan besluit om sy kleim te gaan afpen. Hy trek sy vrypak aan, saal sy spogperd op en val in die pad, sonder om presies te weet waarheen hy gaan.

Daar in Gwaiing se kontrei gewaar hy ’n bywonershuisie waarvan die bodeur oopstaan en hy trek sy perd in.

Sy gedagte is om drinkwater te vra en dan sommer die pad te verneem na oubaas Barnard se plaas.
Selfversekerd soos ’n volstruisboer betaam klop hy aan die deur.

En uit die skemerte van die binnehuis, met ’n besem in haar hand, kom die mooiste verskynsel wat Jan in sy lewe gesien het nader!

Die dogter van die bywoner, besig om die voorhuis se misvloer te vee!

Hy vra nie eens verder nie.

Net daar saal hy af en vra toestemming om vir haar te kuier – Annie Gericke, heet sy.

Die twee is later getroud en is die oupa- en oumagrootjie van die huidige Terblanche-familie van Leeublad.

In wyle oom Danie en tannie Anna Terblanche se sitkamer op die dorp het nog twee pragtige ovaalraamportrette van oom Jan en tant Annie gehang, geneem toe hulle al twee hoogbejaarde mense was.

Ek wonder my tog wat daarvan geword het?

Tannie Anna was ’n kleindogter van die twee en ’n naamgenoot van Mooi Annie Stander van Leeublad. Die liedjie omskryf die gebeure so mooi: “Jan Stander, Jan Stander kom uit die Karoo. Met ’n vosperd, met ’n vosperd dit kan julle my glo. Vaal bokskyn se bloupak en ’n veer op sy hoed.
Kom hy oor die klip om ’n nooi te kom soek. In die grasveld het Annie hom eerste gewaar. Want die bodeur was oop en toe vra hy vir haar.. Jan Stander sê Annie, jy kan vir my kry. Na die kerk toe sal ons twee op pa se wa ry.”

Die vosperd en die veer op die hoed dui natuurlik op Jan se rykdom, net soos die pak klere wat van duur blou “buckskin” gemaak is.

Die “klip” verwys na die Outeniquas wat die Klein Karoo en die Grasveld in twee deel.

En die “kerk toe ry” is natuurlik die spoggerige huwelik wat plaasgevind het.

So ten slotte: Die meisies van die Klein Karoo moenie nou vir my skel nie – ek het maar met 1875 se mond gepraat!