Briewe van lesers: 20 April 2023

Bedanking aan almal wat bydrae gelewer het tot nog ’n suksesvolle KKNK

As uitvoerende burgemeester betuig ek my opregte dank en waardering aan almal wat bygedra het om vanjaar se KKNK suksesvol aan te bied. In die eerste plek, baie dankie aan ons inwoners en besigheidseienaars vir julle positiwiteit, vriendelikheid en gasvryheid.

Ons het talle komplimente van besoekers ontvang oor die gasvryheid van Oudtshoorn se mense.

Die fees kan nie plaasvind sonder die onder- steuning van die dorp se mense en besighede nie.

Baie dankie ook aan die direksie van Kunste Onbeperk, die bestuurspan en elke werknemer van die KKNK en kontrakteurs wat nagte deur gewerk het om die fees moontlik te maak. Die aanbieding van so ’n groot fees kan ’n logistieke nagmerrie wees, maar deur hulle deeglike beplanning en uitvoering het alles glad verloop.

’n Fees met die omvang van die KKNK gaan gepaard met groot veiligheidsuitdagings en hier moet groot waardering en dank uitgespreek word aan Brigadier Susan Crafford en Kolonel Tanya du Plessis, elke lid van hulle span wat die GOS (Gesamentlike operasionele sentrum) tydens die KKNK beman het asook die span van Alert Patrol wat die feessekuriteit behartig het en verseker het dat feesgangers en stalletjiehouers veilig was.

Die munisipaliteit is ’n integrale deel van die KKNK en hier wil ek elke werknemer van die munisipaliteit bedank vir die dienste wat hulle voor, tydens en na die KKNK gelewer het. Sonder hierdie toegewyde mense sou dit haas onmoontlik wees om ’n fees aan te bied. Die sukses van die KKNK en die gepaardgaande voordeel wat Oudtshoorn se inwoners uit die fees put, is afhanklik van elke rolspeler, ongeag hoe groot of klein, die bydrae is.
– Uitvoerende Burgemeester, Chis MacPherson

Voorstel aan KKNK oor toegangsfooie vir bejaardes bo 77 jaar

Ek is ’n inwoner van Oudtshoorn Aftreeoord. Ek is baie in my skik dat u met die hulp van borge weer die fees op Oudtshoorn kon aanbied, en ek bedank u daarvoor.

Ek verneem tog of u die toegangfooi by die fees aan ouer mense van 77 jaar en ouer (ek is veel ouer), kan verminder.

Miskien gelykstaande aan die kinders van 12 jaar dalk of halfprys.

Ek sal ook bly wees indien u voor die ingang van die tent-sale in die toekoms sal aandui wie almal daar uitstal, sodat ek nie onnodig daar inloop nie.

U vriendelike oorweging vir my versoeke sal waardeer word.
– Inwoner van Oudtshoorn en trotse KKNK ondersteuner.

Terugvoer vanaf die KKNK

Baie dankie vir jou ondersteuning en terugvoer.

Ons waardeer jou kommentaar en sal dit bespreek met ons nabetragting van hierdie jaar se fees, met die oog op volgende jaar se KKNK.

– Hugo Theart, Artistieke direkteur KKNK