Lyk in motor-saak vir verdere ondersoek uitgestel

DIE saak teen Fransisco Erasmus (47) van George wat van moord op ’n 60-jarige man van Bloupunt, Dysselsdorp, aangekla word, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn landdroshof vir verdere ondersoek tot 12 Mei uitgestel.

Erasmus bly in aanhouding nadat dit aan die lig gekom het dat hy op parool was toe hy in hegtenis geneem is vir die moord op Abraham Herandien.

Die liggaam van Herandien is met veelvuldige steekwonde, op Dinsdag 21 Maart, Menseregtedag, deur verkeersbeamptes in die kattebak van die motor van Erasmus op die De Rust-pad gevind.

Hy het aan die verkeersbeamptes gesê dat hy met ’n passasier op pad was na die hospitaal.

Erasmus het glo gereeld by die woning van die oorledene en sy vrou gekom en by tye ook vir hulle kos geneem. Hy het Herandien glo die betrokke oggend by sy huis opgelaai voordat hy vermoor is. (Deur Garnett Wicomb)