’N Man van Royal Heights, Calitzdorp, wat iemand met ’n houtpaaltjie oor sy kop geslaan en sy skedel gekraak het, is Maandag in die Oudtshoorn streekhof agt jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy aan aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind is.
Die 29-jarige Adrian Gerber is onskuldig bevind op die klagte van moord, maar streeklanddros Ntsoki Moni het bevind dat weens die erns van die misdryf, nie ’n korrektiewe toesigvonnis soos versoek deur die verdediging sal regverdig nie.
Gerber het die 26-jarige Elrico Booysen, die aand van 21 September 2018 vier keer met ’n spanhoutjie oor sy kop geslaan. Hy het ’n paar dae later in die Grootte Schuur Hospitaal gesterf.
Gerber het getuig dat Booysen die betrokke aand sterk onder die invloed van alkohol was toe hy op bierbottels en hout gegly, sywaarts met sy kop teen ’n muur geval en toe weer op ’n sementblad geval het.
Sy weergawe is egter deur die hof verwerp en so ook die ge- tuienis van sy meisie Racheline April.
’n Buurman, Francois Kloppers, het getuig dat hy laataand voor sy huis gesit en drie harde slae gehoor het. Toe hy opkyk het hy gesien hoe dat Gerber vir Booysen met die vierde hou oor sy kop slaan.
Streeklanddros Ntsoki Moni het in haar uitspraak gesê dit is onwaarskynlik dat iemand se skedel so erg kon gekraak het soos wat die dokter getuig het, deur teen ’n muur en sementblad te val.
“Dit kan wel gebeur as iemand van ’n tweede of derde verdieping van ’n gebou val,” het die landdros gesê.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om Gerber vir ten minste vyf jaar tronk toe te stuur aangesien dit een van die ernstigste sake van aanranding om ernstig te beseer is, deur iemand vier keer met ’n stuk hout oor sy kop te slaan en hom so ernstig beseer het dat hy sterf.
Die hof moet ook in ag neem dat die beskuldigde twee vorige relevante veroordelings het en dit duidelik is dat hy ’n pro-bleem met sy humeur het, en ook nie enige berou toon nie.
Die feit dat Gerber, volgens sy regsverteenwoordiger, ’n goeie werk in diens van die Kannaland munisipaliteit het en ’n salaris van R15 000 per maand verdien, nie beteken dat hy nie direkte gevangenisstraf opgelê kan word nie en dat almal gelyk is voor die reg.
Gerber se regsverteenwoordiger, Martin Green, het die hof versoek om ’n korrektiewe toesig vonnis te oorweeg. “Die beskuldigde het die betrokke aand die situasie probeer kalmeer toe die oorledene baie kwaad was vir sy meisie en ongelukkig oorboord gegaan,” het Green gesê.
Volgens Green is die beskuldigde jammer oor wat hy gedoen het.
Die hof het egter bevind dat die enigste gepaste vonnis vir die wrede aanranding direkte gevangenisstraf sal wees omdat enige ander vonnis ’n verkeerde boodskap sal uitstuur.
“Die hof kan nie net kyk na die belange van die beskuldigde nie, maar ook na dié van die slagoffer.
Daar word te dikwels vergeet van die slagoffer wat ook ’n familie het vir wie hy of sy gewerk het.
Die hof kan ook nie anders kyk na mense met goeie salarisse nie,” het die landdros gesê.
Gerber is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die landdros het na Gerber se vonnisoplegging vir polisiebeamptes gevra om Gerber se moeder uit die hof te verwyder toe sy onbedaarlik en hardop begin huil en geskree het: “Nie my kind nie. Asseblief”. (Deur Garnett Wicomb)