Borgtog vir agt in sindikaat-dwelmsaak

BORGTOG van tussen eenduisend en twintigduisendrand is Dinsdag in die Oudtshoorn landdroshof toegestaan aan agt verdagtes in die sogenaamde sindikaat-dwelmsaak.

Sestien verdagtes staan tereg op altesaam 54 klagtes, van handel in dwelms, besit van dwelms en geldwassery.

Landdros Stephanie Strydom het borgtog van R20 000 elk aan Reginald Fielies en Melvin Jacobs toegestaan, R5 000 aan Marshall Mclune, en R1 000 elk aan Vladimar Gordon, August Wild, Emile Jonas, Vivian Arries en Vincent Goba.

Ses van die verdagtes, Manfred John, Wilber Paulsen, Ann Erasmus, Arlington Hurling, Shawn Hendricks en Chantelle Manewil is almal op waarskuwing vrygelaat.

Die aansoekers se regsverteenwoordigers het vir borgtog gevra omdat hul kliënte almal oor vaste woonadresse beskik, nie vlugrisiko’s is nie en ook nie hangende sake teen hulle het nie.

Hulle het ook tot dusver hul volle samewerking aan die polisie gegee en sal ook alle borgtog voorwaardes nakom.

Die staatsaanklaer het borgtog teengestaan omdat al die applikante tereg staan op ernstige klagtes en dit nie in belang van geregtigheid is dat hulle vrygelaat word nie.

Die staat het nie die vrylating van die ander ses teengestaan nie.

Die landdros het egter beslis dat dit wel in belang van geregtigheid is om borgtog aan die agt verdagtes toe te staan op voorwaarde dat hulle nie wegbly vir hul hofverskynings en nie by verdere misdaad betrokke raak nie.

Madelyne Adams was nie in aanhouding nie terwyl borgtog reeds in ’n ander saak aan Louis Emezuo geweier is. (Deur Garnett Wicomb)