Luiperds bly lekker in die Klein Karoo

Foto: Cape Leopard Trust

ALTESAAM 37 luiperds was tydens die 2022 opname afgeneem. Agt van hulle was ook in 2017 opgetel, en twee van hulle was nie net in 2017 nie, maar ook in 2012 afgeneem.

Dit is die uitslag van navorsing deur die Cape Leopard Trust (CLT), ’n nie-regerings organisasie sonder winsbejag wat in 2004 tot stand gekom het, wat met veldkameras die wild afneem wat hier voorkom.

Inligtingsborde
Die organisasie het vroeër vanjaar begin met bewusmaking in die Klein Karoo. Deel daarvan is die vyf interpretatiewe kennisgewingborde wat by strategiese bewaringspunte opgerig is, inligting-sessies by skole en Boer saam met die Natuurwerks-winkels. Weerbestande interpretatiewe borde oor luiperds is by Gamkaberg Natuurreservaat, die Kangogrotte en Meiringspoort se besoekersentrums, Fontein-gasteplaas in Gamkaskloof (Die Hel), en by die Rooiberg Lodge naby Vanwyksdorp opgerig.

Boer saam met die Natuur
Die Boer saam met die Natuur-werkswinkels vorm deel van die bewusmakingsprojek. Die eerste werkswinkel was op 8 Maart by Bella de Karoo aangebied. Dit was deur sewe boere van die streek bygewoon en het gehandel oor hoe die uitwerking van droogte bestuur kan word deur strategiese beweiding onder die waaksame oog van ’n herder.

Die volgende kursus was op 19 April aangebied en het gehandel oor hoe ’n mens saam met roofdiere wat vee vang, soos jakkalse, rooikatte en luiperds, kan boer. Die kursus was in samewerking met CapeNature gedoen en was ’n holistiese benadering tot die bestuur van die roofdiere.

Skoolkinders
Die eerste van ’n reeks inligtingsessies met altesaam 223 skoolkinders van ses skole in die Klein Karoo was in Februarie vanjaar gedoen. In die sessies het hulle meer geleer oor luiperds en die noodsaaklikheid van biodiversiteit.

Veldkameras
CLT het sowat 87 000 foto’s op veldkameras in die Klein Karoo vasgelê. Die kameras is in ’n gebied van sowat 2 000 km² in die Swartberg-, Gamkaberg- en Ruitersbos natuurreservate, en op kommersiële plase en gemeenskapgronde. Die foto’s van sowat 40 soogdierspesies sluit inheemse diere soos die aardvark, aardwolf, ratels, rooijakkalse en die bruin hiëna in, asook ’n aantal grootwild spesies op wildplase. Verskeie voëlspesies is ook afgeneem.

In die 20 weke waartydens die inligting versamel was, was luiperds by 47 van die 64 kamerapunte afgeneem. Uit die sowat 600 luiperdfoto’s was 37 individuele luiperds met behulp van die kolpatroon van die pels geïdentifiseer. Die foto’s word vergelyk met vorige opnames van 2012 en 2017 en van die luiperds wat toe opgemerk was, was weer afgeneem. Uiteindelik sal die opnames wys hoe die luiperd populasie met gelang van tyd vaar en hoe hulle bestuur moet word om hul voortbestaan te beveilig.

Vir meer inligting oor die Cape Leopard Trust se werksaamhede, besoek die webtuiste by https://capeleopard.org.za/. (Deur Tisha Steyn)