Uit die hof: Voorverhoorkonferensie volgende stap in skoolhoof-saak

Die strafsaak teen ’n 60-jarige skoolhoof van ’n laerskool op Oudtshoorn wat teregstaan op ’n aanklag van seksuele aanranding, is in die Oudtshoorn-streekhof tot 22 Julie vir ’n voorverhoorkonferensie uitgestel.

Volgens die klagstaat hou die aanklag verband met ’n beweerde voorval op 11 Desember 2025. Die klaer is ’n 26-jarige onderwyseres aan dieselfde skool.

Met die beskuldigde se eerste hofverskyning het die staatsaanklaer, Leandré Rhodes-Mei, nie sy vrylating op waarskuwing teengestaan nie.

Die hof het bevind dat dit in die belang van geregtigheid is dat die beskuldigde op waarskuwing vrygelaat word, onder die voorwaarde dat hy geen kontak met staatsgetuies mag hê nie.

Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks. (GARNETT WICOMB)