Die saak teen ’n musiekonderwyser van Oudtshoorn wat teregstaan op aanklagte van statutêre verkragting, seksuele aanranding en gereedmaking van ’n minderjarige, is weer uitgestel.
Die saak het op 24 Junie in die Oudtshoorn-streekhof voorgekom, waar dit vir pleit en verhoor tot 24 Julie uitgestel is. Volgens die klagstaat hou die aanklagte verband met beweerde voorvalle wat gedurende 2024 plaasgevind het. Die klaer was destyds 13 jaar oud en het na bewering klavierlesse by die beskuldigde ontvang.
Die beskuldigde is op 6 Maart 2025 borgtog in die Oudtshoorn-distrikshof geweier nadat hy homself aan die polisie oorgegee het.
Tydens sy borgtogaansoek het hy aangedui dat hy onskuldig op al die aanklagte sal pleit. Sy nuwe regsverteenwoordiger, Zac Lipschitz, het tydens die jongste hofverskyning om ’n uitstel versoek om verdere instruksies van sy kliënt te verkry.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks, met Nadia Arnolds as aanklaer. (GARNETT WICOMB)
Uit die hof: Saak teen musiekonderwyser weer uitgestel
