Ithemba House vir hawelose mense in Oudtshoorn doen ’n dringende beroep op die gemeenskap, besighede en moontlike borge om te help om die skuiling se daaglikse bedrywighede aan die gang te hou.
Volgens die voorsitter, Jan Ayford, bied die skuiling onmiddellike veiligheid, noodverblyf en basiese benodigdhede aan mense sonder ’n vaste woonplek. Dit sluit kos, slaapplek en stortgeriewe in.
Hoewel die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling finansiële ondersteuning aan die organisasie bied, is dit volgens Ayford nie voldoende om al die daaglikse uitgawes te dek nie.
“Die departement se befondsing beloop R22,51 per persoon per dag vir drie maaltye, maar die werklike koste om inwoners te versorg is aansienlik hoër,” sê hy.
Ithemba House huisves tans sowat 30 inwoners en beplan om sy kapasiteit uit te brei. Danksy opknappingswerk wat tans aan die gang is en ‘n borgskap van stapelbeddens, hoop die organisasie om nog ongeveer 25 mense van die straat af te kan akkommodeer.
Om die uitbreiding moontlik te maak, is die skuiling op soek na skenkings van kos, komberse, toiletware en finansiële bydraes om die daaglikse versorging van inwoners te ondersteun.
Ayford sê voedsel is veel meer as net ’n basiese behoefte.
“Vir iemand wat haweloos is, bied ’n warm maaltyd nie net voeding nie, maar ook veiligheid, waardigheid en hoop.”
Die skuiling doen ’n beroep op individue, kerke, organisasies en besighede om, waar moontlik, daagliks, weekliks of maandeliks by te dra. Enige skenking, ongeag die grootte, sal volgens hom ‘n betekenisvolle verskil maak.
Mense wat Ithemba House wil ondersteun of meer inligting wil bekom, kan Ayford by 044 518 0001 of 066 320 9529 kontak.
Ithemba House vra gemeenskap se steun
Foto: Malissa Spies