Die RedRock Raceway in Oudtshoorn sal op Saterdag 11 Julie die tuiste wees van die 30ste RGR Klein Karoo Kampioenskappe, aangebied deur die Oudtshoorn Motorklub, waar bykans 100 jaers na verwagting sal meeding.
Die kampioenskappe, wat oor drie dekades tot ’n gevestigde instelling op die ovaalbaankalender ontwikkel het, lok jaarliks deelnemers en toeskouers van regoor die land.
Volgens die program open die hekke Saterdag om 09:00, terwyl tegniese inspeksies en bestuurderregistrasie tussen 10:00 en 13:00 afgehandel sal word. Die eerste wed-renne spring om 14:00 weg en die aksie duur na verwagting tot 23:00.
Voertuigkeuring en bestuurderregistrasie vind op Vrydag 10 Julie van 14:00 tot 18:00 by Route 62 plaas, waarna die trekking vir die wegspringposisies dieselfde aand om 20:00 gehou word.
Die organiseerders sê toeskouers kan uitsien na ’n dag van opwindende wiel-aan-wiel-renne met jaers wat in verskillende klasse sal meeding. Die byeenkoms bied ook ’n geleentheid vir plaaslike motorsportliefhebbers om van die land se beste ovaalbaanjaers in aksie te sien.
Toegang kos R150 vir volwassenes en R50 vir kinders jonger as 12 jaar.
Die organiseerders nooi inwoners en besoekers om die dag saam te kom geniet en die deelnemers aan te moedig.
Lees ook:
