Die opwinding bou reeds op vir die jaarlikse RGR Klein Karoo Kampioenskappe wat op 11 Julie op die bekende Red Rock Raceway-ovaalbaan beslis word. As deel van die voorbereiding vir dié gewilde motorsportgeleentheid het die Oudtshoorn Motorklub die afgelope Saterdag ’n spesiale wedren aangebied waar renjaers hul voertuie onder wedrentoestande kon toets en verfyn.
Die byeenkoms het deelnemers van regoor die Wes-Kaap gelok, met sterk verteenwoordiging uit Kaapstad en Worcester. Die besoekende renjaers het gou gewys dat hulle ernstig is oor die komende kampioenskappe en het van die eerste rondtes af vir opwindende aksie op die baan gesorg.
Een van die hoogtepunte van die dag was die uiters mededingende 1660-klas waar Jaun le Roux van Kaapstad as wenner uit die stryd getree het. Die jong Dominic Griessen, kleinseun van die bekende borg van die Klein Karoo Kampioenskappe, het ook beïndruk en ’n verdienstelike derde plek behaal.
In die gewilde Heavy Metal-klas het Francois Smit van Worcester sy ervaring ten toon gestel en die kompetisie oorheers om die klaswenner se trofee huis toe te neem.
Die plaaslike renjaers het egter ook hul deel van die glorie geniet. Divan Meyer van Oudtshoorn het uitstekende beheer en vaardigheid getoon om die Ninja Rods-klas vir deelnemers onder 16 jaar te wen. Sy prestasie het groot applous van die toeskouers ontlok en beklemtoon die opkomende talent wat in die streek ontwikkel word.
Nog twee Oudtshoornse jaers, Vian Verwey en Burger van der Westhuizen, het hul onderskeie klasse gewen en sodoende die plaaslike vlag hoog laat wapper teen sterk mede-dinging van buite die dorp.
Volgens verskeie besoekende deelnemers was die Arnold de Jager-ovaalbaan in uitstekende toestand. Renjaers het die baan se voorbereiding geloof en ook hul waardering uitgespreek vir die gasvryheid en vriendelike ontvangs wat hulle van die Oudtshoorn Motorklub en plaas-like jaers ontvang het.
Met minder as ’n maand oor voor die RGR Klein Karoo Kampioenskappe, het Saterdag se aksiebelaaide byeenkoms reeds bewys dat motorsportliefhebbers op 11 Julie ’n skou-spel van spoed, vaardigheid en adrenalien kan verwag.



