Jong rugbytalent skitter by Interprovinsiale o. 13 Suide-toernooi op Oudtshoorn

Foto: Granwille Goliath

Die Interprovinsiale o.13 Suide-rugbytoernooi het die afgelope naweek op die Leeupark-sportterrein op Oudtshoorn afgeskop, waar van die beste jong rugbyspelers uit die suidelike streke van die land hul talent ten toon gestel het. Vir twee dae lank het die velde geborrel van energie, passie en opwindende rugbyaksie, terwyl spelers gewys het waarom hulle as van die land se belowendste jong sportsterre beskou word.

Van die eerste afskop af was dit duidelik dat die spelers nie net daar was om deel te neem nie, maar om hul provinsies met trots te verteenwoordig. Die harde werk, ure se oefening en toewyding wat agter die skerms plaasgevind het, was sigbaar in elke duikslag, breekslag en drie wat aangeteken is.

Vrydag se openingswedstryde het reeds vir groot opwinding gesorg. Border B het Oostelike Provinsie B met 24-14 geklop, terwyl SWD B hul krag gewys het met ’n indrukwekkende 36-0 oorwinning oor Boland B. Boland A het daarna hul stempel afgedruk deur Oostelike Provinsie A met 53-7 te verslaan.

Die tuisspan, SWD A, het die plaaslike ondersteuners laat juig toe hulle Border A met 35-17 verslaan het.

Saterdag het die aksie voortgeduur met nog verskeie hoëgehalte wedstryde. SWD B het hul goeie vorm voortgesit deur Border B met 31-12 te klop, terwyl Oostelike Provinsie B met 14-7 teen Boland B gewen het. Een van die mees mededingende wedstryde van die toernooi was die kragmeting tussen SWD A en Boland A, wat op ’n spannende 12-12 gelykopuitslag geëindig het.

Oostelike Provinsie A het daarna met 26-5 teen Border A gewen, maar dit was die laaste wedstryde van die dag wat die grootste indruk gemaak het. Boland A het Border A met 38-0 afgeransel, terwyl SWD A hul klas gewys het met ’n oorheersende 52-0 oorwinning oor Oostelike Provinsie A.

Die toernooi het nie net uitstekende rugby opgelewer nie, maar ook ’n blik gegee op die toekoms van Suid-Afrikaanse rugby. Tussen die jong spelers was daar talle uitblinkers wat reeds die aandag van toeskouers en afrigters getrek het.

As die naweek se vertonings enigiets is om op voort te bou, kan rugbyliefhebbers gerus uitsien na die dag wanneer sommige van hierdie jong sterre moontlik die groen-en-goud van die Springbokke aantrek. (GRANWILLE GOLIATH)