Tweede teksmark Joburg om die draai

’n Toneel uit die eerste Teksmark Joburg in 2023. Foto: Reinhardt Bodenstein

Vyftien nuwe teksidees vir teaterstukke is by die KKNK se tweede Teksmark Joburg te sien.

Die tweede Teksmark Joburg word op Donderdag 24 en Vrydag 25 Oktober by die Universiteit van Johannesburg (UJ) aangebied.

“Teksmark is vir die eerste aantal jare slegs by die Baxter in Kaapstad aangebied, maar dit is baie opwindend dat ons vir die tweede keer ook nou die skrywersprojek in Johannesburg kan aanbied. Dit is ’n wonderlike geleentheid om hierdie konsep uit te brei. Ons is dankbaar om dié projek by ons vennoot in Gauteng, UJ se Kuns- en kultuurdepartement, aan te bied en sodoende ook ’n geleentheid aan meer skrywers te gee.” So sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK.

Teksmark is ’n bekroonde projek van die KKNK, aangebied met die ondersteuning van NATi, die Baxter-teatersentrum, die ATKV, Het Jan Marais Nationale Fonds en vanjaar ook UJ. Teksmark Joburg skep ’n platform vir beide gevestigde en opkomende skrywers om hul teks-idees aan potensiële beleggers voor te lê. Teksmark Joburg bied aan elke skrywer die geleentheid om oor hul teks-idee te gesels, waarna ’n leesteater-uittreksel van tien minute opgevoer word.

Daarna word die vloer oopgestel vir die gehoor om vrae te vra, vir verdere bespreking van die teks tussen die skrywer, betrokkenes en die gehoor. Uit die meer as 100 tekste wat vanjaar vir oorweging ingedien is, is 15 tekste in September by die Baxter-teatersentrum voorgelê.

Die 29ste KKNK word van Dinsdag 1 tot Sondag 6 April 2025 op Oudtshoorn aangebied. Vir meer inligting oor dié fees, hou die KKNK se sosiale media dop, , besoek www.kknk.co.za of kontak 044 203 8600.