Die begaafde en kreatiewe kunstenaar, Thomas Thomson, het sy voete in Oudtshoorn gevind. Hy het in September hierheen verhuis en die perseel oorgeneem van Christiaan Ras, wat vroeër vanjaar skielik oorlede is.
Thomson is vanjaar reeds 35 jaar in die ontwerpersbedryf en bekendes en legendes soos Laurika Rauch, Theuns Jordaan, Patricia Lewis en Liz Meiring het al van sy ontwerpersklere gedra. “Om die vreugde op ’n kliënt se gesig te sien as ek hul droom verwesenlik deur ’n ontwerp, maak my opgewonde,” vertel hy.
Hy vertel dat hy op 12-jarige ouderdom reeds een van sy ma se lakens opgeknip het om ’n trourok te maak.
Sy ontwerpe was reeds ook in verskeie televisiereekse en produksies soos Villa Rosa en Huisgenoot Skouspel en hy was ook die ontwerper vir ’n Mej. Suid-Afrika-kompetisie. Hy is geen vreemdeling in mense se sitkamers nie aangesien programme soos Top Billing en Bravo reeds verskeie kere in sy ateljee gekuier het om met hom onderhoude te voer.
Oor hoe hy in Oudtshoorn beland het, vertel hy dat hy self daaroor wonder. “Ek voel die Here het vir my ’n pad na die dorp self oopgemaak. Ek was lus vir ’n uitdaging en het gesoek na ’n plek waar ek weer waardeer word. Toe Christiaan se winkel beskikbaar word, was dit die teken waarvoor ek gewag het en ek het die kans met altwee hande gegryp. Christiaan se personeel is absolute staatmakers en ons werk ongelooflik lekker saam,” sê Thomson opgewonde.
Hy sê dat Oudtshoorn se mense hom met ope arms ontvang het en ondersteun. Thomson sê hy en sy personeel is hier om uitsonderlike diens en gehalte-ontwerpe vir almal van die Klein Karoo te bied.
Hulle wye reeks dienste behels onder andere trourokke, matriekafskeidsrokke en -pakke en enige ontwerp vir daardie spesiale geleentheid. Daar wag ook opwindende nuus vir die toekoms, want Thomson beoog om eersdaags ’n vertoning aan te bied met ont-werpe vir sy bekendste kliënte. “Ons gaan ook binnekort aandrokke en pakke te huur aanbied,” sê hy opgewonde.
Besoek Thomas Thomson Haute Couture by sy winkel in die Seppie Greeff gebou by Voortrekkerweg 76 Oudtshoorn of skakel hulle gerus by 082 305 9769 vir ’n afspraak. Besoek ook hul Facebookblad of webtuiste, www.thomasthomson.co.za om van die ontwerpe te besigtig. (ANGELIQUE ERASMUS)
Mooimaak maak hom gelukkig
Thomas Thomson en die bekende televisie persoonlikheid, Liz Meiring. Foto verskaf