Kundige waarnemende bestuurder vir PA

Links voor is Noël van Stade (waarnemende munisipale besuurder) en Zolile Nongene (direkteur van tegniese dienste) met Linda Jaquet (uitvoerende burgemeester) en Bjorn Metembo (direkteur finansiële dienste) agter. Foto verskaf

Die uitvoerende burgemeester van Prince Albert, Linda Jaquet, het hierdie week bevestig dat Noël van Stade tot die einde van die jaar as waarnemende munisipale bestuurder aangestel is.

Van Stade het ook in 2022 as munisipale bestuurder in dié dorp waargeneem en is vertroud met die dorp se omstandighede. Jaquet sê dat Van Stade oor groot kundigheid beskik en onder sy leiding as munisipale bestuurder van Hantam-munisipaliteit is dié munisipaliteit as die 14e beste een in die land aangewys.

Hy het ook ondervinding opgedoen in die munisipaliteite van Bitou en Saldanha en was tot onlangs die direkteur van gemeenskapsdienste in Oudtshoorn.

Van Stade is ’n toegelate prokureur in die hooggeregshof van Suid-Afrika. Hy is ook ’n kundige op die terrein van behuising aangesien hy vanaf 2017 tot 2022 lid was van die behuisingtribunaal vir die provinsiale departement van menslike nedersettings.

“Ons is vol vertroue dat mnr. van Stade se bewese ervaring en leierskap sowel as sy kennis van Prince Albert se munisipaliteit, kontinuïteit en doeltreffende bestuur tydens die oorgangsperiode sal verseker,” het Jaquet in ’n verklaring gesê. (HANNES VISSER)