Weer ’n tussenverkiesing in Dysselsdorp

Bertram Jantjies tydens sy inhuldiging as PA raadslid vroeër vanjaar. Foto verskaf

Daar word in Desember vir die tweede keer in agt maande ’n tussenverkiesing in Wyk 9 in Dysselsdorp gehou nadat raadslede van politieke partye verwissel het.

Dit volg nadat Bertram Jantjies as raadslid van die Patriotic Alliance (PA) bedank het en by die DA aangesluit het. Jantjies is tydens ’n tussenverkiesing in April verkies nadat Chad Louw uit die ANC bedank het en op sy beurt by die PA aangesluit het.

Jantjies het vandeesweek in ’n WhatsApp-boodskap aan inwoners van Dysselsdorp gesê hy besef dat sy bedanking vir hulle ’n skok is, maar dat hy die besluit om spesifieke redes geneem het.

’n Gedeelte van die boodskap lui as volg: “Dit is vir my onaanvaarbaar om onderdruk te word deur ’n party wat net uit ’n klein groepie mense bestaan waar ek as Wyksraadslid glad nie gerespekteer is nie. Besluite is geneem sonder om my in te lig of te betrek en ek was bloot daar om ’n stem uit te bring sodat ander lede daarby kon baat. Ek kon ongelukkig nie my gemeenskap so dien nie.”

Oudtshoorn se waarnemende munisipale bestuurder, Mkhululi Yekani, het Maandag bevestig dat hy die OVK (Onafhanklike verkiesingskomitee) ingelig het oor Jantjies se bedanking en dat ’n vakature in Wyk 9 verklaar word. Volgens aanduidings sal die tussenverkiesing op 4 Desember gehou word.

Dit is op hierdie stadium nog nie bekend watter politieke partye kandidate vir die verkiesing gaan stel nie

Jantjies het verlede week reeds in ’n gesprek met Die Hoorn gesê hy het besluit om te bedank en by die DA aan te sluit omdat hy glo dat die gemeenskap beter onder die DA gedien sal word.

Die speaker, Suzane Jansen (PA), het gesê dat Jantjies nie ’n ander keuse gehad het as om te bedank nie omdat hy die PA in oneer gebring het met sy toegeneëntheid tot die DA. Sy het hom namens die PA sterkte toegewens met sy toekomsplanne.

Die OVK het intussen Woensdag bevestig dat daar op 4 Desember ’n tussenverkiesing in Wyk 9 sal plaasvind. Die Hoorn sal nader aan die tyd met politieke partye skakel om te bevestig watter partye aan die tussenverkiesing gaan deelneem en wie hulle kandidate sal wees. (HANNES VISSER)