Seun verdrink in watergat

Bo: Léroy Roman (voor) by sy beste vriend AJ Bekker, by Eljada-Kairos se skoolatletiekdag. Onder: Omstanders op die brug oor die Olifantsrivier naby Dysselsdorp. Heel onder: Die watergat onder die brug waarin Léroy verdrink het. Foto's verskaf.

Die 17-jarige Léroy Roman van Dysselsdorp het Saterdag 12 Oktober verdrink terwyl hy en nog kinders in die Olifantsrivier geswem het.

Léroy was ’n leerder by Eljada-Kairosskool.

Hennie Baartman, skoolhoof van die skool en ook die familie se woordvoerder, het vandeesweek die Die Hoorn te woord gestaan.

Volgens Baartman het Léroy en vriende Saterdag ’n lafenis teen die hitte gaan soek.
Hulle het in die Olifantsrivier se loop, onder die padbrug naby Dysselsdorp gaan swem.

Baartman sê die kinders wat saam met Léroy gaan swem het, het na die tyd gesê hulle kon nie sien hoe diep die water was nie.

Léroy het in een van die dieper poele in die moeilikheid geraak.

Die kinders wat saam met hom daar was, kon hom nie help nie en het na die pad gehardloop om hulp te soek.

Met hulle terugkeer na die poel het Leroy reeds verdrink.

Reddingswerkers wat na die toneel ontbied is, het Léroy op die toneel dood verklaar.

“Léroy het gereeld onder toesig by die skool in die swembad wat spesiaal vir ons kinders gebou is, geswem. Ons swembad is egter nie diep nie,” vertel Baartman.

Volgens Baartman was Léroy ’n oulike kind met goeie maniere en respek vir mense.
“Die onderwysers het baie van hom gehou omdat hy sulke mooi maniere gehad het. Hy gaan baie gemis word deur ons almal.”

Léroy het op 10-jarige ouderdom by Eljada-Kairos aangesluit en sou vanjaar sy skoolloopbaan voltooi het.

AJ Bekker was Léroy se boesemvriend op skool. Hy en sy gesin is diep getref deur Léroy se dood. AJ se ma, Enith, sê dat haar seun sy vriend geweldig mis.

“AJ was 9 jaar oud toe Léroy by die skool gekom het, en hulle het groot vriende geraak,” vertel sy.

Léroy was ’n hemipleeg met selebrale verlamming, en AJ is gebore met downsindroom, vertel Bekker.

“Nieteenstande hul gebrekke het daar ’n hegte vriendskap tussen die twee maats ontwikkel,” sê sy.

“Die liefde wat hul as beste maats vir mekaar gehad het, was duidelik sigbaar wanneer hulle bymekaar was. AJ het graag vir Léroy drukkies gegee en dit ook met baie vreugde ontvang. Léroy het hom so mooi ontferm oor AJ, veral as hy nie toeganklik was vir ander mense nie.” Volgens Bekker het Léroy vir AJ opgepas en baie ondersteun en dat hy ’n goeie verantwoordelikheidsin gehad. Die twee maats het ook gereeld tydens pouse krieket gespeel.

“Léroy se menswees en vrolikheid sal ons altyd bybly, ons almal gaan hom baie mis,” sluit sy af.

Volgens ao. Josepth Swartbooi, polisiewoordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die polisie op Dysselsdorp op ’n voorval gereageer en met hulle aankoms op die toneel om 13:54 die liggaam van die seun gevind wat reeds uit die water gehaal was.
“Dit kan nie bevestig word wie die liggaam uit die water gehaal het nie. Die slagoffer is deur die mediese personeel op die toneel dood verklaar,” lui die verklaring.

Die polisie in Dysselsdorp het ’n geregtelike doodsondersoek vir verdere ondersoek geregistreer. ’n Lykskouing sal uitgevoer word om die oorsaak van dood te bepaal.
“Ons doen ’n beroep op enigiemand met inligting om asseblief die mobiele toepassing MySAPS anoniem te gebruik of alternatiewelik Crime Stop by 08600 10111 te skakel,” sluit Swartbooi af.

’n Weldoener het aangebied om die koste vir Léroy se begrafnis te betaal aangesien die familie nie oor die fondse daarvoor beskik nie. Sy begrafnis sal op 26 Oktober plaasvind. Meer inligting aangaande die reëlings sal later bekend gemaak word. (ANGELIQUE ERASMUS)

Die hartseer toneel, Léroy se liggaam word weggeneem deur noodhulppersoneel. Foto: Leon Campher

AJ Bekker en Léroy Roman was baie geheg aan mekaar en boesemvriende. Foto verskaf