Twee diere-organisasies smelt saam

DBV vertel van planne vir Oudtshoorn

Hier is die nuwe ACT SA! Die span van die nuwe  Animal Care Team South Africa (ACT SA) saam met, agter van regs, dr Cathy Fox (staatsveearts), Frieda Jansen van Rensburg van die Tuinroete DBV en Moira Gibbs van die PDSA (People’s Dispensary for Sick Animals). Die voor-  sitter van ACT SA is Vanessa Engelbrecht (agter, vyfde van links).  Foto:  Angelique Erasmus

Hier is die nuwe ACT SA!
Die span van die nuwe Animal Care Team South Africa (ACT SA) saam met, agter van regs, dr Cathy Fox (staatsveearts), Frieda Jansen van Rensburg van die Tuinroete DBV en Moira Gibbs van die PDSA (People’s Dispensary for Sick Animals). Die voor- sitter van ACT SA is Vanessa Engelbrecht (agter, vyfde van links). Foto: Angelique Erasmus

DEUR Angelique Erasmus
“REDDING van diere bly steeds ons top-prioriteit, en dit beteken nie die verwydering van diere by minderbevoorregtes nie – hulle verdien ook om hulle diere lief te hê en liefde te ontvang – maar om in ’n ondersteuningsrol op te tree en die mense van die gemeenskap te leer.”

Dit was die woorde van Vanessa Engelbrecht, voorsitter van die nuwe Animal Care Team South Africa (ACT SA).

Engelbrecht het Saterdag by ’n funksie by die Safari Volstruisplaas bekend gemaak dat twee van Oudtshoorn se dierewelsynorganisa­sies, Oudtshoorn Volunteers vir diere en ACT, saamsmelt en voortaan bekend sal staan as ACT SA.

Hul leuse, Rehabilitation, Education, Sterilise, Care, Uplift and Encourage, spel die woord  “rescue”.
Engelbrecht sê ACT SA sal voortgaan om nou saam te werk met die staatsveearts, dr Cathy Fox. Sedert Januarie 2018 is reeds sowat  200 diere ge-ste­riliseer en word daar beoog om oor die volgende vyf jaar 70% van alle diere in nood steriliseer.

“Hoewel almal betrokke by ACT SA ’n passie vir diere het, moet in gedagte gehou word dat al die vrywilligers voltyds werk. Hulle sukses hang af van die steun, ook finansieel, vanaf die staat en publiek.”

• Frieda Jansen van Rensburg van die Tuinroete DBV aan wie die tender vir die bedryf van die Oudts­hoorn Diereskut verlede jaar al toegeken is, het die DBV se toekomsplanne vir Oudtshoorn bekend gemaak. Volgens haar is ’n gebied naby  die stasie aan hulle toegeken waar ’n nuwe skut deur die munisipaliteit gebou sal word. Die terrein sal omhein word met 16 hokke vir honde, ’n af­de­ling vir katte en ’n isolasie-gedeelte vir siek diere. ’n Inspekteur sal 24 uur beskikbaar wees met ’n persoon 24 uur op die perseel.

Jansen van Rensburg het gesê hoewel die planne vir die skut goedgekeur is, het die DBV nog nie kontrak geteken nie omdat ’n geskikte gebou nog nie opgerig is nie.