Burre Burger stuur droogte- hulp na die Klein Karoo
George Naudé (regs), een van die boere van die Badshoogte-omgewing tussen Oudtshoorn en Calitzdorp, vroeg Saterdagoggend net buite Oudtshoorn by Danie Erasmus wat oornag ’n vrag mielies uit Cedarville na die Klein Karoo gebring het. “Dit is hulp van Bo,” het ’n dankbare Naudé aan Erasmus gesê. Foto: Liesel le Roux
Deur Angelique Erasmus
DRIE trokke met vragte mielies vir die diere op plase in die droogtegeteisterde Oudtshoorn en Calizdorp-omgewing is die afgelope week met trane van blydskap en opwinding ontvang.
Die goeie nuus is dat nog tien vol trokke op pad is en na verwagting Vrydagaand laat hier sal aankom.
Dié vragte voer het gevolg op ’n hulproep van plaaslike boere aan Burre Burger se landwye droogtehulpnetwerk.
Die eerste vrag van sowat 30 ton mielies is verlede Woensdag in die Volmoed-omgewing afgelewer nadat Laubscher Coetzee vir hulp gevra het. Die voer is onder 57 boere van Volmoed verdeel. Elke boer het ongeveer 12 sakke mielies ontvang.
Volgens Coetzee is mielies ’n goeie bron van energie vir diere, veral in die winter.
Hy vertel dat hulle sowat drie jaar gelede 10 ton pille en lusern geskenk het aan boere elders in die land wat in nood was.
“Dis moeilik om te glo dat die skoen nou aan die ander voet is,” sê hy.
Die tweede vrag van sowat 32 ton mielies is Saterdag in die Badshoogte-omgewing naby Calitzdorp ontvang.
Dié skenking, en ’n tweede een die afgelope Dinsdag, het gevolg nadat George Naudé namens die omgewing se boere vir Burre
Burger gekontak het. “Dit was ’n baie emosionele dag vir ons. Die droogte trek almal nader aan mekaar. Ek is steeds in verwondering dat iemand ons wil help en vir die wonderlike manier waarop ons hulp ontvang,” sê Naudé.
Volgens Naudé is daar tans nog 10 sulke trokke op pad na die omgewing en sal hulle Vrydag laataand deur Oudtshoorn kom.
Naudé sê sowat 300 ton voer sal dan in vier gebiede tussen boere verdeel word. Boere wat voer benodig of betrokke wil raak, kan die volgende persone kontak: Gamka-gebied – Ernie Fourie (082 335 9886), Volmoed-gebied – Ilse Snygans (074 529 1124), Badshoogte – George Naudé (076 292 9652) en die Kammanassie – Eben le Roux (082 379 2619).
Die tien trokke sal bymekaar kom by Karoowater Gasteplaas. Hiervandaan sal hulle na die verskillende punte vertrek.
Die tien drywers en twee assistente se verblyf vir die nag word deur Karoowater geborg.
Boere betaal ’n vrywillige bedrag van R50 vir elke sak met voer. Dit word inbetaal in ’n droogtefonds waaruit onkoste gedek word om volgende skenkings moontlik te maak.
Die dertien trokke se voer sal egter na raming slegs genoeg wees vir sowat 45 dae.
Boere vertel dat die gebied in die 1970’s laas so droog was, en skenkings toe per trein na die gebied gebring is.
‘Ek is steeds in verwondering dat iemand ons wil help en vir die wonderlike manier waarop ons hulp ontvang’
