Sanelle Steyn word Sondag deur die AMS-helikopter opgehys nadat haar Volkswagen Golf die Swartbergpas byster geraak en na benede gerol het. Foto’s heel onder is van links Sanelle se man, Pieter, en die twee vroue wat op die motorwrak afgekom het, Zané Coetzer en Lana Laubscher. Foto hier bo en tweede van onder word Sanelle uit die motorwrak gedra en onder verwyder noodpersoneel haar uit die motorwrak. Foto’s: Schalk le Roux



Deur Liesel le Roux
DIE vrou van Oudtshoorn wat Sondag sowat 30 meter ver in haar motor teen die Swartbergpas afgetuimel het, was by haar bewussyn toe hulle haar bereik het, sê Lana Laubscher, ’n biokinetikus van George wat eerste by die motorwrak was.
Sanelle Steyn (38) van die plaas Welgevonden buite Oudtshoorn was in die rigting van Oudtshoorn op pad toe haar donkerblou Volkswagen Golf die pad verlaat het. Dit het sowat 30 meter teen ’n hang van die Swartberge na benede gerol en op sy wiele tot stilstand gekom het.
Stukke van die motor se bakwerk wat deur takke en rotse op pad na onder afgeruk is, het oral rondgelê.
Lana en Zané Coetzee, ook ’n biokinetikus, het Sondagoggend die Swartbergpas vir Lana se pa, Steyn Laubscher van Sasolburg, gaan wys toe Zané die motorwrak onder die pas teen die berghang gesien het. Lana sê toe hulle naby kom, het sy gesien daar is iemand in die wrak.
Lana, gevolg deur Zané, het teen die berghang afgeklim tot by die wrak en met hul kennis van noodhulp dadelik begin om Sanelle te stabiliseer. Hulle het ook die nooddienste ontbied.
Dit is nie duidelik wat die oorsaak van die ongeluk was nie en hoe lank ná die ongeluk hulle op die toneel aangekom het. Volgens die bandmerke op die pas het die motor skielik na regs geswenk op ’n reguit stuk pad net ná ’n draai en is dit daar teen die berg af.
Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die ongeluk het waarskynlik rondom 10:40 plaasgevind.
Die Air Mercy Service (AMS) se heli-kopter het Sanelle omstreeks 12:30 in erg winderige toestande opgekatrol waarna dit op ’n gelykte hoër op geland het en Sanelle daar verder behandel is.
Sy is na die Mediclinic George gebring. Volgens Kassie Karstens, algemene be-stuurder van die kliniek, is Sanelle in die hospitaal se ongevalle-afdeling behandel en nog dieselfde dag ontslaan. Karstens het aangedui dat hy nie meer inligting oor beserings mag verstrek nie.
Die Hoorn kon nie vandeesweek met Sanelle kontak maak nie om te verneem hoe dit met haar gaan.
Volgens kapt Visser ondersoek die Polisie ’n klagte van roekelose of nalatige bestuur.