’n Kunstenaarsvoorstelling van die nuwe Bridgton Mall vir Oudtshoorn.
Deur Wyndham Ewerts
DIE bekendstelling van die lank beoogde Bridgton Mall in die Groter Oudtshoorn het uiteindelik Dinsdag plaasgevind – op die oop stuk grond waar dit gebou gaan word.
Dié nuwe winkelsentrum langs die Bridgton Kliniek sal sowat 4 400 vierkante meter beslaan en teen ’n koste van sowat R45 miljoen opgerig word.
Volgens Boet Smuts, die ontwikkelaar van Stellenbosch aan wie die tender toegeken is, word beoog om die nuwe Bridgton Mall tydens volgende jaar se Paasnaweek te open.
Besighede soos Shoprite Liquor, Debonairs/Steers, Nu Look, MobiMan, Tekkie Town en Pep Stores het volgens Smuts reeds hul winkelruimtes bespreek, asook ’n Chinese modewinkel, ’n viswinkel, meubelwinkel, skoenherstelbesigheid, slotmaker en drie kitsbanke van verskillende banke.
“Op die oomblik onderhandel ons ook met ’n groot bank wat moontlik ’n volwaardige tak in die sentrum gaan open,” het hy gesê.
“Die res van die winkeleenhede wil ons graag aan plaaslike entrepreneurs in die gemeenskap beskikbaar stel om hulle die geleentheid te gee om hul dienste en produkte te bemark en te verkoop.
“Hierdie is ’n baie groot projek wat sonder twyfel Oudtshoorn se tweede sakekern gaan wees. Sekuriteit is uiters belangrik en inwoners kan verseker wees van uitstekende sekuriteit by die sentrum.”