Tot siens, Joey!

Joey de Kock, voormalige bemarker van Die Hoorn wat op 9 Januarie oorlede is, en haar man, Fanie, wat in Oktober 2020 oorlede is.

’N OUD-ADVERTENSIEBEMARKER van Die Hoorn, Joey de Kock, is op 9 Janaurie oorlede na ‘n lang stryd teen kanker.

Die dood van haar man en liefde van haar lewe, Sarel (Fanie) de Kock, in Oktober verlede jaar asook die dood van hul seun, Gerhard, in Julie 2019 was vir Joey baie swaar.

Fanie, wat sy as 12-jarige leer ken het, was die middelpunt van haar lewe en hul verhouding ’n ware liefdesverhaal wat oor meer as 5 dekades gestrek het.

Joey was ’n bemarker van formaat wat 40 jaar in die koerantbedryf gewerk het – eers in Pietersburg waar sy in 2001 as mediaverteenwoordiger van die jaar deur die noordelike koerante aan­gewys is, en nadat sy en Fanie in 2005 na Oudts­hoorn getrek het, by Die Hoorn.

Joey word oorleef deur haar geliefde dogter en kleindogter, Helene en Jolandi, haar skoonseun, Darius, en ’n agterkleinkind, Amelia.