2 sterf, 6 beseer in nagtelike botsing

Simon Mei (27) en Geraldine Nyembeni (28) Foto’s verskaf

TWEE jong inwoners van Volmoed, Geraldine Nyembeni (28) en Simon Mei (27), het Sondag in die vroeë oggendure gesterf toe ’n bakkie waarin hulle passa­siers was ’n boom langs die Volmoed-pad buite Oudtshoorn, getref het.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoer­der van die Oudtshoorn Polisie, was daar nege mense in die Ford Bantambakkie wat omstreeks 01:30 – binne die tydperk wat die aandklokreël geld – naby die Volmoed-winkel in die botsing betrokke was. Die bestuurder het vermoedelik op dié reg­uit stuk pad beheer oor die bakkie verloor Nadia Ferreira, woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid in die Tuinroete Distrik, sê ses van die insittendes is dié oggend in die Oudtshoorn Hospitaal se noodeenheid behandel.

Vier van hulle is later oorgeplaas na die George Hospitaal. Die ander twee is dieselfde dag uit die Oudtshoorn Hospitaal ontslaan.

Volgens Visser was die bestuurder van die voertuig met die aankoms van die polisie nie op die toneel nie, maar het hy Sondagmiddag by die hospitaal opge­daag. Hy is behandel en later ontslaan.

“Hy is nie in hegtenis geneem nie. Ons weet wie hy is en waar hy bly. Sodra die ondersoek genoeg getuienis bevat, sal die dossier voor die hof gelê word en kan ’n verdagte gearresteer word,” het Visser gesê.

Die polisie ondersoek volgens Visser sake van strafbare manslag, dronkbestuur, versuim om die regulasies van die wet op rampbestuur na te kom, asook versuim om hulp te verleen op die ongelukstoneel.

Katy Swarts, Simon se moeder, het Dins­­dag gesê sy voel wel effens beter ten spyte van die skok en hartseer van haar kind se dood, nadat sy sy liggaam kon gaan uitken het.

“Simon was ’n saggeaarde, hardwer­kende en altyd grapperige mens. Niks kon hom onderkry nie. Sy vriende het hom daai oggend kom wakker maak en gesê hy moet saam met hulle ry,” het sy gesê.

Simon was ook ’n bekende inbeller op die radiostasie Eden FM. Swarts, wat die niggie van Geraldine se ma is, het Geraldine beskryf as ’n standvastige, teruggetrokke en baie goedgeaarde mens. Geraldine was ’n werknemer van die Cape Karoo International Abbatoir.

’n Gedenkdiens en begrafnis vir Simon vind Saterdag by die Volkskerk van Afrika op Volmoed plaas, terwyl Geraldine Sondag ter ruste gelê sal word met ’n diens by die Volmoed VGK-kerk. (Deur Stefan Skapie Goosen)