OUDTSHOORN en omgewing loop die laaste tyd erg deur onder geweld.
Die Hoorn is bewus van vier afsonderlike voorvalle in die laaste twee weke waarin drie mense gesterf het en een gewond is.
In die eerste geval is ’n negejarige kind Saterdagaand omstreeks 18:00 met ’n mes in die bobeen gesteek deur ’n jong man in sy twintigs.
Die voorval het by ’n kafee in Leeubekkieweg plaasgevind toe die seun deur sy buurvrou gevra is om doeke by die kafee daar naby te gaan koop.
Die jongman het na bewering grappies met die kind gemaak toe hy die mes uitgehaal en hom raakge-steek het.
“Alhoewel my seun se wond nie so ernstig was dat hy hospitaal toe moes gaan nie, kon dit soveel erger gewees het. Hy kon dood gewees het as die wond dieper was en ’n aar raak gesteek is,” het sy ma aan Die Hoorn gesê.
In nog ’n voorval is die 41-jarige Maria Pieterse van Volmoed dood aangetref.
Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is sy Sondagoggend dood in haar huis, langs haar bed, aangetref.
“’n Geregtelike nadoodse ondersoek word gedoen om te bepaal of daar enige gemene spel betrokke is,” het Michaels gesê.
Die verklaring lui voorts dat ooggetuies gesien het hoe die vrou drie keer buite haar huis val, en dat sy later na binne haar huis geneem is.
In ’n derde voorval is Sereev Plaatjies (18) Saterdag in Avontuurstaat by sy grootouers se huis in Bridgton met ’n mes doodgesteek.
Daar word beweer dat die oorledene en die verdagte (24) in ’n stryery betrokke was waarna Plaatjies in die nek gesteek is.
Die verdagte het Dinsdag 14 Maart in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.
Daar word beoog om volgende Dinsdag (21 Maart) om 16:00 ’n kransleggingseremonie op die toneel te hou waar Plaatjies gesterf het.
Sy begrafnis word vir die volgende week beplan.
In nóg ’n geval is Angelo Jansen (32) op Saterdag (5 Maart) dood toe hy ook met ’n mes gesteek is.
Ao Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het in ’n verklaring gesê dat paramediese personeel omstreeks 19:00 na die toneel ontbied is.
Jansen is op die toneel dood verklaar.
’n 29-jarige verdagte is in hegtenis geneem en het reeds verlede Woensdag (8 Maart) in die hof verskyn.
Die saak is vir ’n formele borgaansoek uitgestel.
Daar is verlede Donderdag kranse gelê op die plek waar Jansen oorlede is.
Jansen se begrafnis vind Saterdag 18 Maart om 10:00 by huis in Dysselsweg plaas en die seremonie vind om 11:00 plaas in die United Congregational Church.
Die nuutste gevalle volg kort op die mesdood van Jacques Liebenberg (34) wat op 12 Januarie buite Dysselsdorp langs ’n pad gevind is.
Liebenberg is na bewering verskeie kere met ’n mes gesteek.
Drie verdagtes, waaronder sy stiefbroer, Herman Redelinghuys (24), het al verskeie kere in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.
Redelinghuys het sy aansoek om borgtog laat vaar, maar die ander twee verdagtes, Abraham Swartbooi en Adriaan Isaacs, gaan voort met hul aansoeke om borgtog.
Gemeenskapsleier en raadslid, Leon Campher het verlede week ’n WhatsApp-groep bekend as Community against Crime op die been gebring.
“Die doel van die groep is om mense vanuit die gemeenskap betrokke te kry en om op te staan en te help om misdaad te bekamp,” sê hy.
Daar is reeds meer as 40 lede op die groep van regoor Oudtshoorn en Dysselsdorp.
Daar sal ook gereeld vergadering gehou word waar moontlike oplossings bespreek sal word, probleemgebiede geïdentifiseer sal word en die gemeenskap mekaar kan help en ondersteun.
Kontak Campher by 082 958 4348 om deel te word van die groep.
“My versoek aan alle inwoners is om nie gesteelde goedere te koop, of die Polisie met klippe te bestook wanneer hulle op sogenaamde dwelmhuise toeslaan nie.
“Ons omstandighede hoef nie misdaad te veroorsaak nie en ons moet eerder verkeerde dinge aan die Polisie rapporteer.” (Deur Angelique Erasmus)
Toename in ernstige geweld ’n groot bekommernis
1: Shareev Plaatjies (18). 2:Jacques Liebenberg (34). 3: Die meswond aan ’n 9-jarige kind 4: ’n Kansleggingseremonie het verlede Donderdag plaasgeving op die plek waar Angelo Jansen van Dysselsdorp gesterf het. 5: Angelo Jansen (32). Foto’s verskaf