Oudtshoorniete bring gedigte, musiek, kuns, stories na vanjaar se KKNK

Heelbo van links: Julia de Beer, Tania Smit en Jaco Kriek. (Foto: KKNK Feesgids) Onder links: Poem Mooney. (Foto: Hoorn-argief) Onder middel: Janion Kennedy. Onder regs: Mirinda Ntantiso (Foto’s: Hans van der Veen)

ONDER die talle kunstenaars wat vanjaar by die KKNK betrokke gaan wees, is ’n hele aantal baie talentvolle Oudtshoorniete.

Onder hulle tel die digter en skrywer Tania Smit, die saksofoonspeler en oogkundige Jaco Kriek, die bekende storieverteller Poem Mooney, Kannawenner Marinda Ntantiso, die rymkletser en akteur Janion Kennedy (Noemwoord) wat verlede jaar vir ’n Kannatoekenning genomineer was, akteur Theo Witbooi asook vanjaar se die feeskunstenaar, Liza Grobler, en die kunstenaars Janet Dixon en Francois Tiran.

Dié produksies waarby Oudtshoorniete betrokke is, is vanjaar by die KKNK te sien:
• Hekelwoorde, sax en solo’s in die Klein Karoo op 2 en 5 April in die St Jude’s Anglikaanse Kerk in Baron van Reedestraat.

Tania Smit lees van haar kortverhale en gedigte voor, met Jaco Kriek op saksofoon en die stemme van Julia de Beer, en Kobus Lawson.

Tania se twee bundels, Hekelwoorde en Heelword, is tydens Boekbedonnerd op Richmond as die mees inspirerende selfgepubliseerde bundels van 2019 én 2021 aangewys en Hekelwoorde as naaswenner vir die beste onafhanklike publikasie van 2019 in die Independent Publisher Book Awards.

• OppieStoep in die Klein Karoo op 6 April onder die sterre by die Welgeluk Verepaleis net buite Oudtshoorn.

Die aanbieders van die gewilde TV-program OppieStoep, Pietman Geldenhuys en Lyntjie Jaars, bring die geliefde storievertellers Gertjie Odendaal van die Overberg, Human du Toit van Vyeboom asook die Prins Albert-boorling en bekende Oudts­hoorniet Poem Mooney bymekaar.

Die kameraspan gaan dié aand vir TV-uitsending vasvang.

• Droomkraan Kronieke, aangebied deur die Karoo Kaarte-geselskap wat by verlede jaar se KKNK vir sewe Kannas benoem is vir die produksie Op hierie dag.

Droomkraan Kronieke is gebou om Klein Karoo-kinderstories en kinderherinneringe van deelnemers.

Plaaslike akteurs en musikante wat in dié produksie verskyn, is Mirinda Ntantiso wat in 2022 met ’n Kanna as beste opkomende akteur bekroon is, Janion Kennedy (Noemwoord) wat in 2022 ’n Kanna-nominasie ontvang het in dieselfde kategorie asook Theo Witbooi.

Droomkraan Kronieke is op 1, 2, 3, 7 en 8 April te sien in die Johnny Bisschoffsaal by die Laerskool Van Reede.

• Kaartjies vir produksies is te koop by die KKNK-kantoor op Oudtshoorn (by Arbeidsgenot in Jan van Riebeeckweg), by Pick n Pay en aanlyn by Quicket.

Vanjaar se feeskunstenaar uit die Klein Karoo!

• Vanjaar se KKNK- feeskunstenaar is Liza Grobler wat twee jaar gelede met haar gesin hierheen verhuis het.

Grobler se uitstalling, Inkommers, laatkommers en laatlammers, kan van 1 tot 9 April van 09:00 to 18:00 daagliks gratis in die Prins Vincent-gebou besigtig word.

Die uitstalling van skilderye en weefwerk kombineer visuele elemente uit die Klein Karoo-landskap met mondelinge oorvertellings uit die streek.

• Skilderye van nog twee bekende Oudtshoorn-kunstenaars, Janet Dixon en Francois Tiran, met die titel Incarnation of Women sal ook van 1 tot 9 April van 09:00 tot 18:00 by die Prince Vintcent-gebou te sien wees. Skilderye van Dixon kan ook tydens die fees besigtig word by Basil & Barley, ’n restaurant in Hoogstraat.