ASEM die skoon lug in, want Oudtshoorn het amptelik die skoonste lug in Afrika! Hierdie brokkie nuus is volgens ’n jongste studie wat deur IQ Air gedoen is.
Belangstellendes kan daagliks op IQ Air se webtuiste gaan kyk hoe lande en spesifieke dorpe vaar en wat die lesings op sekere tye van die dag is.
Suid-Afrika is 13de op die ranglys in Afrika en is in die algehele 39ste plek wêreldwyd.
Dié goeie nuus het Woensdagoggend opslae gemaak toe dit uitgereik is – dit was nie net die Oudtshoorniete wat daaroor aan die gesels geraak het nie, maar nasionale koerante en radiostasies het dit wyd verkondig. Oudtshoorn was op almal se lippe.
Die Hoorn het selfs oproepe uit die buiteland ontvang van mense wat dié nuus met ons wou deel.
Oudtshoorn se lewenskoste is volgens navorsing aansienlik laer as meeste ander dorpe en stede in die land en het die afgelope tyd ’n gewilde blyplek geword vir gesinne wat moeg is vir die stad, wat hunker na ’n rustiger lewe sonder om goeie skole prys te gee.
Volgens www.retungle.co.za, is Oudtshoorn ook 42% veiliger as meeste ander dorpe en stede in Suid-Afrika.
Een van Oudtshoorn se inwoners het vanoggend skertsend aan Die Hoorn vertel dat die dorp nie net die skoonste lug het nie, maar ook kan spog met die grootste voëls in die land. Ter viering hiervan het die radiostasie KFM die gewilde liedjie van die Afrikaanse sanger Marulaboom getiteld “Doen Die Sexy Hoender” met die woorde “Oudtshoorn, dis ’n groot voël paradys” op die radio gespeel. (Deur Angelique Erasmus)
Skoonste lug in Afrika
Foto: Oudtshoorn tydens ’n sonsondergang geneem deur Keith Mouton