Teksmark, die KKNK se teksontwikkelingsprojek, vier op Donderdag 4 en Vrydag 5 September ’n dekade van unieke stories. Tydens Teksmark wat elke jaar aangebied word om nuwe tekste te ontwikkel, kry skrywers die geleentheid om oor hul teksidee te gesels en daarna ’n kort uittreksel onder leiding van bekende regisseurs as leesteater aan te bied.
Met die vorige nege Teksmark-geleenthede het die KKNK ope-uitnodigings aan alle skrywers en aspirantskrywers gerig vir teksvoorstelle. Met vanjaar se tiende viering is skrywers deur vennote van dié projek geïdentifiseer om opdragwerke te skryf of werke wat reeds voorgelê was, is gekies.
“Vanjaar se Teksmark bring ’n uitsonderlike groep skrywers byeen – waaronder drie Hertzog-pryswenners – en bied ’n opwindende blik op wat voorlê vir Suid-Afrikaanse teater,” sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK.
Teksmark 2025 word op 4 en 5 September in die Baxter Studio by die Baxter-teatersentrum aangebied en bywoning is gratis. Alle belangstellendes word genooi om deel te wees van die eerste saadjie wat gesaai word vir die ontwikkeling van nuwe Suid-Afrikaanse teaterproduksies en ’n viering van die tiende jaar van die bekroonde projek.
Dramaturge wie se teksidees voorgelees gaan word is Nicola Hanekom (Die gebed van ’n halfmens), Saartjie Botha (Ge-gebergtes), Willem Anker (Stormjaers), Tertius Kapp (Vastrap), Veronique Jephtas [K(r)aak], Nico Scheepers (My kinders se honde), Jason Jacobs & Devon Delmar (Kontrapunt), Carla Smith (CRYBABY), Amee Lekas (Beloofde land) en Wilken Calitz (Pierneef en die bok).
Die voorlesers is onder andere bekendes soos Frank Opperman, Chris van Niekerk, Joanie Combrink, Waldemar Schultz, Cintaine Schutte, Bianca Flanders en talle ander.
Volgens Lara Foot, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxter-teater, het Teksmark ’n sleutelrol gespeel in die koestering van jong skrywers sedert die projek se ontstaan in 2016, en aan hulle die geleentheid gebied om hulle stories te vertel en hulle stemme in hul moedertaal te deel.
Sedert die ontstaan van Teksmark is bykans 200 teks-idees deur meer as 170 skrywers vir verdere ontwikkeling voorgelê, waarvan ongeveer 50 tekste tot volskaalse produksies ontwikkel is. Hierdie produksies het ook reeds hope pryse ontvang.
“Ons sien daarna uit om belangstellendes by die Baxter-teater te verwelkom om die begin van hier-die tekste te ervaar. Ons moedig ook reeds skrywers aan om hulle teks-idees gereed te kry vir Teksmark 2026, wanneer daar weer ’n ope-uitnodiging vir teksvoorstelle as deel van dié projek sal wees,” sê Hugo Theart.
Meer inligting en die volledige program vir Teksmark 2025 is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Of kontak die KKNK-kantoor via e-pos by info@kunste.org.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Tien jaar mylpaal vir Teksmark wat by KKNK ontstaan het
Nicola Hanekom. Foto verskaf