
Meer as 60 kaartjies was verkoop vir verlede Woensdagaand se viering van Langenhoven se verjaarsdag by die Neelsie-teater. Die aand was die inisiatief van die Arbeidsgenot-komitee as deel van hulle projekte om die Neelsie op gereelde grondslag te gebruik en aan die gemeenskap beskikbaar te stel.
Langenhoven Gimnasium was die enigste skool uit al die hoërskole wat genooi was, wat aan die suksesvolle en genotvolle aand deelgeneem het.
Die optrede van die skool se koor was die hoogtepunt vir talle gaste. Daarbenemwens het drie Gimmie-leerders, Jean Joubert, Ilze Stegman en Bella-Mari Strydom, die skrywer, Jan van Tonder en verhoogkunstenaar, Theo Witbooi ook opgetree met voorlesings en staaltjies oor Langenhoven.
Die volgende geleentheid wat by die Neelsie beplan word is ’n skrywersdag vir skrywers van Oudtshoorn aan die einde van September.