Geleentheid vir plaaslike skrywers om boeke bekend te stel

Bo: Die Arbeidsgenot-komitee is, van links: Carl Coetzer, Hannes Visser, Charmaine le Roux, Christo Smit, Ilse Meyer en Suzette Basson. (Afwesig: Liezl McDuling). Onder: Stephan Henrico tydens die onlangse be-kendstelling van sy boek, Vere langs die pad. Heelonder: Charmaine Beneke met haar jongste boek, GPS for Boys.

Skrywers wat binne die grense van die Groter Oudtshoorn woon kry op 27 September die geleentheid om hulle skryfwerk aan die gemeenskap bekend te stel.

Die Arbeidsgenot-komitee reël ’n skrywersdag vir plaaslike skrywers by die Neelsie-teater vir 27 September as deel van erfenismaand. Skrywers en digters wat reeds aangedui het dat hulle gaan deelneem is Stephan Henrico, Peet Vermaak, Leon Coetzee, Charmanie Beneke, Alet van Heerden, Eunice Strydom en Kobus Minnie.

Die voorwaardes vir deelname is dat die skrywer permanent binne die grense van die Groter Oudtshoorn woonagtig moet wees, reeds een of meer boeke gepubliseer het, bereid is om aan gesprekke in die teater deel te neem en eksemplare van die boeke beskikbaar sal hê om te verkoop. Die program word deur Hannes Visser saamgestel en gelei en daar sal ’n sentrale punt wees waar skry-wers se boeke verkoop word.

Deelname van skrywers en toegang van gaste is gratis.

Meer besonderhede oor die program sal volgende week verskaf word. Skrywers en digters wat reeds boeke gepubliseer het, en graag wil deelneem kan Hannes by 083 467 1522 of per e-pos by info@kersligmedia. co.za kontak. (HANNES VISSER)