Sakekern vir eerste keer in jare sonder onwettige motorwagte

Bo: Woensdag was daar geen teken van enige onwettige motorwagte in Hoogstraat nie. Foto: Hannes Visser Onder: Voorbeelde van die boetes wat uitgereik is. Foto verskaf Heelonder: Die groep onwettige motorwagte nadat hulle aangekeer is. Foto verskaf

Danksy die streng optrede van die munisipaliteit, kon motoriste en klante van winkels in Hoogstraat hierdie week parkeer en inkopies doen sonder om deur bedelaars en onwettige motorwagte lastig geval te word.

Wetstoepassers het Maandag, 1 September, toegeslaan en 11 onwettige motorwagte aangekeer, polisiestasie toe geneem en elk met R500 beboet. By gebreke om die boete te betaal moet ’n persoon op 28 Oktober in die hof verskyn waar hy waarskynlik tot ’n aantal dae gemeenskapsdiens gevonnis sal word.

Hierdie optrede volg nadat verskeie klagtes oor die bedelaars en motorwagte in veral Hoogstraat ontvang is en onder andere deur Die Hoorn onder die aandag van die munisipaliteit gebring is. In een geval wat genoem was, het ’n karwag probeer om te verhoed dat ’n vrou wat nie vir hom geld wou gee nie, in haar motor klim.

Die munisipaliteit het verlede week in reaksie op die koerant se navrae, onderneem om dringend aandag aan die kwessie te skenk. Aurelia Mle, skakelbeampte van die Oudtshoorn munisipaliteit, het hierdie week bevestig dat die 11 onwettige motorwagte beboet is vir die oortreding van Ordonnansie 10(a) van die pad- en straatverordeninge van die Oudtshoorn-munisipaliteit soos gepubliseer in die Provinsiale Staatskoerant 6636 van 12 Junie 2009.

Sy sê verder dat Maandag se optrede deel vorm van die munisipaliteit se verskerpte optrede om misdaad en wetteloosheid in die middedorp te bekamp en dat dié optrede volg op verskeie klagtes van lede van die publiek oor die veiligheidsituasie in die middedorp.

“Die munisipaliteit is bekommerd oor die agteruitgang van die veiligheidsituasie in die middedorp, en sal voortgaan om gevalle van misdaad en wetsoortreding vas te vat,” het sy Woensdag in ’n verklaring gesê.
Daar was uiteenlopende reaksie deur inwoners na die plasing op sosiale media van Maandag se arrestasies. Die oorgrote meerderheid van reaksies was egter ten gunste van die stap.

Volgens Hennie Davel, bekende sakeman van Oudtshoorn en bestuurslid van die Oudtshoorn besigheidskamer, was alle onlangse pogings om die motorwagte op te lei en aan sekere reëls te onderwerp, onsuksesvol.

“Ons het dit ’n aantal jare gelede goed reggekry om die karwagte te organiseer. Hulle het glimbaadjies en identiteitskaarte gekry en ons het ook gereeld ’n prys toegeken aan die karwag wat die beste diens gelewer het,” sê hy.

Dit blyk dat daardie inisiatief ten einde geloop het toe die munisipale bestuur van destyds miljoene spandeer het om ’n kontrakteur aan te stel wat ’n span parkeerbeamptes aangestel het om parkeergeld in te vorder. Die stelsel het skaars twee maande gehou en het tot verskeie probleme met die kontrakteur sowel as die aangestelde parkeerbeamptes gelei. Sedertdien het die motorwag- en bedelaarsprobleem aanhou groei.

Volgens Davel het daar met sy onlangse poging om die motorwagte te reguleer, byna 30 by die eerste vergadering opgedaag, daarna was daar 11 en met die derde vergadering, was daar slegs drie. Hy sê daar moet twee dinge gebeur om hierdie probleem op te los.

“In die eerste plek moet die wetstoepassers nou net aanhou om die mense aan te keer en hulle moet gestraf word. Tweedens moet inwoners ophou om geld aan die mense te gee. Dit klink dalk kras, maar solank as wat hulle vergoed word om onwettig op te tree, sal hulle aanhou daarmee,” sê Davel. Volgens hom werk die huidige sisteem waar mense wat tot gemeenskapsdiens gevonnis word goed om openbare areas op te ruim.

“My portefulje op die besigheidskamer se bestuur is onder andere die veiligheid en netheid van die middedorp en ek het die hof genader om mense wat gemeenskapsdiens moet verrig, beskikbaar te stel om skoon te maak. So is daar al groot dele van die begraafplaas skoongemaak – dit werk,” sê hy. (HANNES VISSER)