DIE brawe Lucinda (Lulu) Spies (20), wat stadig maar seker besig was om haar kragte te herwin ná ’n ernstige motorongeluk in Julie verlede jaar, het op Vrydag 27 Januarie ’n terugslag ervaar toe sy hospitaal toe gehaas mos word nadat sy gesukkel het om asem te haal.
Lulu, ’n oud-leerder van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, is Sondag per helikopter na die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad geneem.
Daar is aanvanklik vermoed dat daar iets fout was met haar longe, maar dokters het intussen agtergekom dat haar lugweg vernou is en dit die rede is hoekom sy sukkel met asemnood.
Lulu se ma, Heidi Spies, is by haar by die hospitaal en hou die familie op hoogte van haar vordering.
Haar toestand is tans ernstig, maar stabiel.
“Die hospitaal is baie streng wat besoektye betref, ons kry maar nuus van my suster af soos sy dit ontvang,” sê Andrea Lerm, Lulu se tannie wat net buite Oudtshoorn bly.
Sy het mense gevra om vir Lulu te bid.
“Elke gebed help en ek glo dit met my hele hart, moet asseblief nie ophou bid vir Lulu nie,” vra Lerm.
Lulu het 13 ernstige beserings in die ongeluk buite Bloemfontein op 28 Julie 2022 opgedoen.
Haar motor se agterband het vermoedelik gebars en die motor het gerol.
Lulu is deur die agterruit van haar motor geslinger.
Dit was ’n wonderwerk dat Lulu die ongeluk oorleef het – sy het skedelbreuk opgedoen, haar bokaak is gebreek, sy het twee gebarste en twee gebreekte rugwerwels gehad, ’n pelvisbreuk, ’n gebreekte regterfemur, haar milt was geskeur en albei haar longe het platgeval. Sy was vir weke in ’n koma en is eers sewe weke later uit die hospitaal ontslaan om tuis aan te sterk. (Deur Angelique Erasmus)
Terugslag vir brawe Lulu
Lucinda (Lulu) Spies, wat verlede Woensdag in die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad oorlede is.