
DIE stiefbroer van die vermoorde Jacques Liebenberg (34), wie se lyk op 12 Januarie langs die Kammanassiepad gevind is met veelvuldige steekwonde, het verlede week vlugtig in die landdroshof verskyn. Hy sal in aanhouding bly tot sy volgende hofverskyning.
Dit is nie bekend presies wanneer Liebenberg gesterf het en wat daartoe gelei het dat hy vermoor is nie.
Die polisie het die dag ná die lyk gevind is Liebenberg se stiefbroer, Herman Redelinghuys, en nog twee verdagtes in hegtenis geneem.
Laasgenoemde twee is egter weer vrygelaat omdat bewyse ontbreek wat hulle met die misdaad verbind, aldus sers Chris Spies, woordvoerder vir die Suid-Kaapse Polisie.
’n Groep inwoners van Dysselsdorp onder leiding van Leon Campher, ’n raadslid van Dysselsdorp, het met plakkate voor die hofgebou teen borgtog vir Redelinghuys betoog. ’n Petisie met meer as 2 000 handtekeninge is ook aan hooflanddros Ryan van Harte oorhandig.
Volgens Campher het Liebenberg die afgelope tyd op Dysselsdorp gewoon. Gemeenskapslede het verlede week ook ’n kranslegging gehou waar sy lyk gevind is. Van Liebenberg se familie was teenwoordig.
“Ons soek nie moordenaars tussen ons nie en daarom vra die gemeenskap dat die hof nie borgtog aan moordverdagtes moet toestaan nie,” het Campher by die hof gesê.
Die saak is deur landdros Vaughn Shone tot 2 Maart uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)