BIBLIOTEEKPERSONEEL in die Groter Oudtshoorn moes vandeesweek terugkeer na die “outydse handstelsel” vir die uitreik en terugneem van biblioteekboeke.
Dit volg nadat die staat se informasietegnologie-stelsel vir biblioteke in die Wes-Kaap op 15 November 2022 ineengestort het.
Sedertdien werk die Wes-Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens, SITA (die regering se informasietegnologie-besigheid) en Oracle ononderbroke om die probleem op te los, maar is dit nog nie bekend wanneer dit herstel sal wees nie.
Die ineenstorting het ’n ernstige impak op dienslewering in Wes-Kaapse biblioteke gehad met boeke wat agter toonbanke, in kantore en stoorkamers opgehoop het omdat dit nie in ’n stelsel ingevoer en terug op die rakke geplaas kon word nie. Al die biblioteke op Outshoorn was Maandag en Dinsdag (30 en 31 Januarie) gesluit om personeel in staat te stel om boeke op te ruim en tydelik na ’n stelsel waar alles per hand gedoen word, oor te skakel.
Lede van die publiek se biblioteekkaarte sal gehou word wanneer boeke uitgeneem word met die boeke se detailkaarte wat aan die biblioteekkaarte geheg word.
Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het inwoners vandeesweek versoek om geduldig te wees terwyl die Wes-Kaapse stelsel herstel word.