
DIT blyk beslis nie meer veilig te wees om in Oudtshoorn se middedorp rond te stap nie.
’n Inwoner en lid van die dierewelsynorganisasie ACT (Animal Care Team), Vanessa Engelbrecht, is verlede Woensdag (25 Januarie) helder oordag in Hoogstraat deur ’n onbekende man met ’n mes gedreig. Die voorval het omstreeks 13:00 voor Nedbank plaasgevind.
Engelbrecht was op soek na ’n yskas vir hul gastehuis en wou ’n plaaslike onderneming ondersteun. Sy was egter so geskok oor die voorval dat sy nie haar inkopies voltooi het nie.
“Ek was so verstom, ek kon nie glo dat die man my helder oordag dreig nie,” vertel sy.
Sy sê dit was toe dat sy om haar rondgekyk het en besef het hoeveel “ongure elemente” rondgesit en gedwaal het.
“Net om die draai by Electric Express slaan een karwag ’n bottel stukkend om ’n ander wag te dreig en te probeer steek. Dit was beslis vir my ’n wake-up call van hoe onveilig die middedorp geraak het.”
Maandagoggend was Die Hoorn self op die toneel om ’n onderonsie tussen twee karwagte voor Wimpy te aanskou.
Een karwag het ’n ander met ’n halwe baksteen in die volgeparkeerde parkeerarea buite die sentrum waar Wimpy geleë is, gedreig, terwyl hulle mekaar in kru taal verskree het.
Gesprekke Maandagmiddag met verskeie werknemers en besigheidseienaars in Hoogstraat het duidelik getoon dat die onveilige middedorp ’n bron van kommer is. Dit geld nie nie net vir inwoners nie, maar ook vir werknemers wat elke dag daar moet werk, daarheen en terug moet pendel en self hul eie inkopies moet doen.
Hulle het anoniem met die Die Hoorn gepraat.
Een sekuriteitswag vertel dat hy gereeld in die oggende wanneer hy vir diens aanmeld, sien hoe daar deur die nag aan besighede se deure en slotte gepeuter is.
“Ek sien ook baie meer mense wat onder die invloed is, maar kan nie sê of dit drank of dwelms is nie,” vertel hy.
Hy sien wel dat die polisie gereeld in Hoogstraat ry, maar volgens hom ry hulle “vinnig daardeur”.
“Dit is ook baie donker agter by die taxistaanplek. Dit sal baie help as daar ’n groot spreilig opgesit kan word.”
’n Vroulike werknemer vertel dat sy deesdae meer op haar hoede is wanneer sy werk toe stap.
By nog ’n besigheid is ’n vroulike werknemer Sondag deur ’n man met ’n pistool geïntimideer.
“Die man het gesteel en sy wou hom stop toe hy die geweer vir haar wys,” vertel een van haar kollegas.
Die vrou is so getraumatiseer dat sy nie Maandag werk toe gegaan het nie.
Sy vertel dat sy Sondae baie meer onveilig voel omdat die dorp dan stiller is, en mense meer kanse vat. “Een van my kollegas is al deur ’n onbekende man huis toe agtervolg. Mense hou jou dop hier in die straat.”
Op 16 Januarie moes een van die besighede se vertoonvensters vervang word nadat een karwag ’n ander tydens ’n bakleiery deur die ruit gegooi het.
Nóg ’n besigheid vertel dat straatkinders die afgelope tyd aansienlik toegeneem het en dat karwagte op hul kliënte toesak wanneer hulle in hul voertuie probeer klim.
Straatkinders is Maandag waargeneem waar hulle ’n motor met ’n winkeltrollie stamp en toe weghardloop. (Deur Angelique Erasmus)