AL doen hulle alles in hul mag om hul inwoners te beveilig, loop Oudtshoorn se tehuise steeds deur onder Covid-19-infeksies.
Die Hoorn het onlangs met Eljada Nasorgsentrum vir persone met intellektuele gestremdhede, Coronation Memorial Care Centre en die ACVV gesels na aanleiding van ’n boodskap waarin namens hierdie instansies gepleit word vir reinigingsmiddel, maskers en handskoene.
By Eljada was daar ’n dringende behoefte vir persoonlike beskermende toerusting. Na verneem word uit bogenoemde boodskap is minstens 13 inwoners en agt personeellede met Covid-19 gediagnoseer en een inwoner oorlede.
Wilma Lemmer, bestuurder by Eljada, wou egter nie getalle bevestig nie, maar het wel bevestig dat daar positiewe Covid-19-gevalle by die instansie is. Volgens haar het hulle dringend handreiniger, maskers en handskoene nodig.
Hierdie oproep is op Vrydag (21 Augustus) op Die Hoorn se Facebookblad geplaas. Volgens Lemmer is daar byna onmiddellik hulp vanuit die Oudtshoorn-gemeenskap verleen.
Berny Herold, bestuurder van Coronation, het gesê daar is minstens nege inwoners daar wat positief getoets het, “maar nie een is in ’n baie ernstige toestand nie.” Hierdie mense toon simptome soos verkoue en keelseer.
“Ek glo die mense steek waarskynlik die virus tydens hul gewone hospitaalbesoeke aan; dan bring hulle dit moontlik terug Coronation toe.
“Inwoners wat wag op toetsuitslae, word geïsoleer totdat hul uitslae ontvang word. Indien hulle positief toets, word hulle onmiddellik na ons Covid-blok geskuif waar niemand sonder dat dit noodsaaklik is toegelaat word nie.”
Volgens Herold dra personeel wat hierdie kamer binnegaan, volle persoonlike beskermende toerusting, van kop tot toon. “En dit is hier waar ’n groot nood tans bestaan, buiten die nood vir maskers vir ons inwoners.”
Herold het gesê die instansie benodig maskers, reinigingsmiddels en handskoene.
“Ons het ook spesifieke toerusting, soos rooi en wit plastiekvoorskote en rooi sakke vir ons personeel, nodig,” het sy bygevoeg.
Die rooi sakke, verduidelik sy, word gebruik om gebruikte beskermende toerusting in te plaas. Dit word dan geseël en op die regte manier weggegooi, “soos met alle mediese afval.”
Die ACVV, wat onder meer Tuishuis en Helen Bellinganhof bestuur, het teen druktyd nog nie op Die Hoorn se navrae oor hul infeksie-syfers en behoeftes gereageer nie.
Hulp vanuit die gemeenskap sal baie help. Indien lesers betrokke wil raak, kan hulle die instansies regstreeks kontak. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Goeiemiddag Stephan (Skapie), Eljada Nasorg is dankbaar vir al die mense met groot harte Wat hul welwillendheid bewys het deur beskermde toerustuing vir ons te skenk! Die Hoorn en al die skenkers het gedemonstreer dat u omgee vir kwesbare persone met intellektuele gestremdhede by Eljada Nasorg. Hierdeur kon ons lewens red! Baie dankie, ek waardeer dit opreg. Wilma Lemmer