’N SPESIALE raadsvergadering van die Groter Oudtshoorn munisipaliteit het Dinsdag verbasend vreedsaam en met samewerking tussen die raads-lede van die onderskeie partye in die raad verloop.
Die vergadering het virtueel op die Zoom-toepassing plaasgevind met die media wat ook toegang gehad het daartoe.
Dit was ’n welkome afwisseling van die raserige raadsvergaderings die afgelope jaar wat gekenmerk is deur verdeeldheid en wat soms in chaos geëindig het.
Verskeie besluite is geneem, ’n groot aantal sake is afgehandel en raadslede van al die partye het tydens die vergadering inisiatief geneem.
Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, het by navraag van Die Hoorn gesê die drie partye wat onlangs ’n alliansie gesluit het, die DA, Sarco en Icosa, hou tans gesamentlike koukusvergaderings waartydens alle kwessies volledig bespreek word voordat ’n raadsvergadering plaasvind.
Daar was ook ander welkome tekens van samewerking met raadslede van al die partye, ook die ANC en EFF wat nie deel is van die alliansie nie, maar wat in die raad se onderskeie portefeuljekomitees dien.
Afwesige DA-raadslede terug
Die vier raadslede van die DA wat sonder verskoning afwesig was by die laaste paar raadsvergaderings – Ewa Fortuin, Nellie Soman, Hendrik (Stokkies) Ruiters en Henry Human – was ook Dinsdag tydens die vergadering terug op hul poste. Hulle was na bewering afwesig omdat hulle nie met die ander DA-raadslede wou saamwerk nie en na verneem word betrokke was by gesprekke oor samewerking met die ANC.
Die speaker van die raad, Julia le Roux, het by navraag gesê daar is egter sekere voorgeskrewe prosesse wat gevolg moet word as ’n raadslid sonder verskoning afwesig is.
Indien ’n raadslid vir drie vergaderings sonder verskoning afwesig was, soos Fortuin, Soman en Human, moet die speaker vir die raadslid ’n brief stuur waarin hy of sy binne sewe dae skriftelik reageer en aandui wat die rede vir die afwesigheid was en waarom hulle nie uit hul posisies verwyder moet word nie. Ook Ruiters, wat vir twee vergaderings sonder verskoning afwesig was, moes ’n brief ontvang en aandui waarom hy nie dissiplinêr verhoor moet word nie.
Le Roux sê sy het as speaker nie ’n ander keuse gehad as om die raadsvoorskrifte te volg en die briewe vir die raadslede te stuur nie.
Volgens haar is dit die eerste keer in haar termyn as speaker dat raadslede sonder verskoning van vergaderings weggebly het.
Die raad sal nou by die volgende spesiale raadsvergadering ’n dissiplinêre komitee saamstel wat die vier raadslede se sake verder moet hanteer en oor hul toekoms besluit. Die speaker dien nie in dié komitee nie. (Deur Liesel le Roux)
Vier raadslede kry briewe
