’N HYUNDAI-BAKKIE wat ’n riooltenk vervoer het, het Woensdagoggend op die Volmoed-pad buite Oudtshoorn omgeslaan toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.
Na verneem word, het die voertuig die pad verlaat en omgeslaan toe die bestuurder dit terug op die pad probeer bring het nadat dit die gruis getref het toe hy padgegee het vir ’n ander voertuig.
Die voertuig behoort aan ’n besigheid wat mobiele toilette verskaf, Top Loos.
Met die ongeluk het van die vrag rioolwater oor die pad gespat, soos wat rioolwater maar doen wanneer dinge verkeerd loop…
’n Blou ontsmettingspoeier is egter kort na die ongeluk deur een van Top-Loos se personeelede oor die pad gegooi waar die rioolwater gemors het.
Verkeers- en noodpersoneel was ook gou op die toneel, en die voertuig is spoedig uit die pad verwyder
Albei insittendes van die voertuig wat tydens die ongeluk na Volmoed op pad was, is net lig beseer, maar is wel na die hospitaal geneem vir ondersoek.
Hulle is albei later die oggend ontslaan. (Deur Stefan Skapie Goosen)
