Moeilike temas, dié soort dinge waaroor ’n mens nie sommer graag praat nie, word aangeraak in ’n debuutdrama – met Oudtshoorn-bande – wat die week by die KKNK te sien is.
Nie net het die teksskrywer, Ricardo Arendse, en die veelbekroonde akteur, Marlo Minnaar, albei op Oudtshoorn grootgeword nie, maar is daar talle verwysings in die produksie, Die halwe huis, na die dorp. Luister maar hoe daar gepraat word oor Bridgton, die Piff, die Nicolaniasaal…
Die halwe huis ondersoek temas soos selfdood, patriargie, depressie, verslawing en geslagsgebaseerde geweld, alles dinge wat bekend is in soveel gemeenskappe.
Minnaar sê hy hoop die gemeenskap van Oudtshoorn gaan in tientalle kom om die produksie te sien.
“Ons moenie vergeet, veral met hierdie stuk, hoekom ons doen wat ons doen nie. Ons wil met die stuk figuurlik die spoke van die verlede laat gaan, ons gemeenskap help om te genees.”
Arendse wat reeds heelwat draaiboeke vir films, die TV en radio geskryf het, sê hy was nog altyd huiwerig om vir die teater te skryf.
“Om vir die teater te skryf het my nog altyd baie angstig gemaak, want jy het nie wegkruipplek nie. Dit is anders as TV of film of radiodrama waar jy ’n bietjie in die skadu kan verdwyn – daar is nie ’n cut and let’s do it again op die verhoog nie.”
Hy het egter geruime tyd ’n idee vir ’n verhoogteks gehad, en toe daar in 2019 gevra word vir tekste vir die KKNK se jaarlikse Teksmark, het hy besluit om die idee aan te pak.
“Ek het egter nog nie heeltemal geweet wat hierdie storie is of gaan wees nie, maar het vyf bladsye uitgetik wat verlede jaar by die Teksmark op Oudtshoorn deur Marlo voorgelees is.
Dié teks het hy egter daarna twee keer heeltemal oorgeskryf totdat hy meer tevrede met die inhoud begin voel het. “En ek wou vir Marlo my beste gee om mee te werk,” voeg hy by.
Arendse sê hy het uit sy eie lewe geleen toe hy die teks geskryf het, sê Arendse. Die teks is egter nie outobiografies nie, hoewel dele daarin wel werklik gebeur het.
Dit stel die gehoor voor aan die draaiboekskrywer Bumper Jansen wat sy lewe wil beëindig: Sy mes is skerp en hy’t mooi nageslaan oor hoe hy moet sny, maar voor hy sy twee polse oopvlek, wil hy darem sy kant van die storie vertel en neem hy die gehoor op ’n reis deur sy kinderdae op Oudtshoorn, sy tienerdae op die Kaapse Vlakte en sy grootmensjare in Johannesburg.
Minnaar sê dit was vir hom as akteur wonderlik om die teks te lees – veral ook omdat dit ’n Oudtshoorn-teks is.
“Mense het die neiging om die platteland en Karoo te glamourise, en hier – alhoewel dit in die mooiste woorde geskryf is met die paragrawe so liries en poëties – sny dit so diep. Ek het as Oudtshoorniet aanklank gevind by wat ek gelees het, die vloek van generasies en hoe dit gebreek word.
Minnaar sê Arendse se poëtiese taalgebruik aan die einde van die stuk het hom diep geraak.
“Die eerste keer toe ek die derde draft van die teks gelees het, het ek aan die einde in trane uitgebars, want ek kon identifiseer omdat ek ook my pa verloor het en as jong bruinman kon identifiseer met wat ’n seun met sy pa deurgegegaan het.
“Aan die einde is daar so ’n mooi gedig oor sy pa, beautiful, beautiful.”
Minnaar sê omdat die stuk hom terugbring na sy grootworddorp speel hy die rol ook doelbewus met ’n Oudtshoorn-aksent.
“Ek streef altyd op die verhoog om die gehoor te prikkel en ’n saadjie te plant waaroor mense sal gaan nadink. Ek weet dit is so met hierdie teks.”
Arendse en Minnaar het net lof vir hul regisseur, Lee Ann van Rooi, en sê haar insig in die teks en ’n vroulike perspektief was belangrik omdat sulke aktuele temas nie net uit ’n manlike hoek benader kan word nie.
• Die halwe huis word in die Gimsaal aangebied op 31 Maart 12:30; 1 April 19:30; 2 April 09:00; en 3 April 09:00. Geen o.16. Lee-Ann van Rooi behartig die regie en die musiek is geskryf deur Les Javan. Kaartjies by Webtickets of Pick n Pay: R165; by die deur: R185. (Deur Liesel le Roux)
Taai temas ondersoek in drama met Oudtshoorn-bande
Ricardo Arendse (links) en Marlo Minnaar, teksskrywer van en akteur in Die halwe huis wat by die KKNK opgevoer word, het Maandag oor ’n koppie koffie in Hoogstraat met Die Hoorn gesels. Arendse en Minnaar het albei op Oudtshoorn grootgeword. Foto: Liesel le Roux