KKNK-kunsuitstallings ’n moet sien

Mary Sibande se Cry Havoc te sien by die KKNK-kunsuitstalling in die Prince Vintcent-gebou.

Bo: In The Midst of Chaos deur Mary Sibande

DIE KKNK-kunsuitstallings in die Prince Vintcent-gebou op die hoek van Baron van Reede- en Kerkstraat mag niemand vanjaar misloop nie.

Die uitstallings kan daagliks gratis besoek word, met gratis rondleitoere daagliks om 11:00 en vir kinders daagliks om 15:00.

Die twee groot installasies van die feeskunstenaar Mary Sibande trek reeds vanaf die opening Maandag baie aandag.

Sibande is internasionaal bekend vir haar beelde van haar alter-ego Sophie – Cry Havoc (vrou met honde) en In the midst of chaos (perd ens).

Die karakter Sophie het Sibande as ’n jong, opkomende kunstenaar ge­skep en daarvoor ’n gietvorm van haar eie liggaam gemaak.

Sophie is haar alter ego en ’n verwysing na die drie generasies van haar familie wat as huiswerkers gewerk het.

In Cry Havoc word die sentrale ka­rakter in ’n pers, outydse periodekostuum uitgebeeld – kenmerkend van dié wat deur diensmeisies in die 19de eeu gedra is in Westerse middelklas- en gegoede huishoudings.

Anders egter as die verwagte gedienstige hou­ding van ’n huiswerker, is Sophie ’n figuur wat wraak en geregverdigde woede uitstraal, gereed om ’n klomp honde (aan leibande) los te laat.

In the Midst of Chaos toon Sophie as ’n ruiter in ’n helderrooi oorlogsgewaad, omring deur aggressiewe mitiese diere en ’n reeks vroulike figure op houtperde wat aan lewensgrootte speelgoedsoldate herinner. Sibande se Sophie-werke bied ’n teennarratief vir dit wat, onder meer, met die swart vroulike liggaam en die vroulike huiswerker vereenselwig word.