Polisievrou van Calitzdorp skep topdrie-film vir Silwerskermfees!

AnnMaree Barry by die naweek se Silwer­skermfees. Foto verskaf

’N POLISIEVROU van Calitzdorp, AnnMaree Barry, se ster skyn helder nadat haar kortfilm, Josefine, onder die topdrie-kortfilms by die kykNET Silwerskermfees geëindig het.

Barry, ’n opkomende skrywer, kon haar vreugde nie verberg nie.

“Dit het nog nie heeltemaal by my ingesink nie. Toe ek daar op die verhoog saam met groot name staan, het ek piepklein gevoel,” vertel sy.

Volgens haar is daar aanvanklik agt films uit 100 draaiboeke gekies, met Josefine, ’n riller, een van hulle.

Sy sê dit handel oor ’n meisie wat haar ophang nadat sy geboelie is. Haar jonger broer sweer hierna wraak. Hy spoor die boelies op en wis hulle een na die ander uit.

Volgens Barry het dit haar twee weke geneem om die draaiboek te skryf. “Ek was verbaas toe ek as plaaskind, oorspronklik van Zoar, een van die drie wenners was. My kop is vol stories en ek waardeer die erkenning wat ek kry.”

Op ’n vraag oor wat haar volgende droom is, antwoord sy effens skaam: “Ek hoop om ’n televisiereeks te skryf.” (Deur Deon Meyer)