Swemgala skuif na 40 jaar George toe

Met ’n besoek van Die Hoorn aan die NA Smit-swembad Dinsdag was ’n span druk besig om dit skoon te maak, te herstel en op te kikker. Foto: Angelique Erasmus

DIE Freda Barnard Swemgala, wat die vorige 40 jaar ’n instelling op Oudtshoorn was, is die naweek die eerste keer in die gala én swemskool se geskiedenis op George aan­gebied.

Die Hoorn berig reeds die afgelope jare oor die gebrekkige onderhoud van die NA Smit-swembad waar nasionale swemgalas al dekades plaas­vind wat oor die jare ’n finansiële in­spuiting van miljoene rande in die dorp se ekonomie was.

Delia van Biljon, eienaar en af­rigter van die Freda Barnard Swemskool, is self hartseer dat hulle ge­- forseer was om die gala te verskuif.

“Ons het besluit om dit te skuif omdat ons altyd sukkel met die waterkwaliteit en die fasiliteite by die swembad. Swemmers het altyd gekla oor die toestand van die water, veral wanneer dit troebel was omdat hulle nie onderwater kon sien wanneer en waar om te draai nie. ’n Mens het helder water nodig om jou beste tye te swem,” sê sy.

Volgens Van Biljon is dit nie net die waterkwaliteit wat deelnemers afskrik om op Oudtshoorn deel te neem nie. “Die ablusiegeriewe is ook nie baie netjies of mooi nie. Dit is wel skoon, maar baie goed is stukkend, soos die toilette en deure. Selfs die aantrekhokkies val uitmekaar. In ver­gelyking is die fasiliteite in George in ’n baie beter toestand, baie netjieser en skoner.”

Om die nasionaal bekende swemgala te skuif was ’n baie moeilike be­sluit vir Van Biljon. “Ons swemspan, die Fish Eagles, moes ongelukkig be­sluit om dit te skuif. Dit is hartseer vir ons in Oudtshoorn wat die tradisie nou al vir 40 jaar hier gehad het, om na ’n ander dorp te skuif. Dit is maar net nie dieselfde nie – die atmosfeer is nie dieselfde nie en dit is nie lekker nie, maar ons moes dit doen.”

Volgens haar is die fasiliteite en diens op George baie beter as op Oudtshoorn. “Omstandighede het ons geforseer. Ons kon nie anders nie, want anders het ons die gala verloor.”

Sy sê die gala die naweek is uitste­kend aangebied. “Hul­le het gereël dat die swembad verhit word vir die drie dae, die water was perfek, die weg­spring­blokke en alles was nes dit moes wees. Die gala het vlot verloop!”

Die toekoms vir die Freda Barnard Swemgala op Oudtshoorn is egter onseker. “Dit gaan moeilik wees om­dat mense nie meer die swembad hier vertrou nie. Ons sal heel tentatief eers ’n ander gala hier moet hou om men­se te oorreed dat die swembad geskik is. Alles hang af van omstandighede by die swembad.”

Chris Macpherson, Oudts­hoorn se burgemeester, het Maandag gesê enige sportgeleent­heid wat die dorp moontlik kan verloor as gevolg van swak beplanning of onvoldoende instandhouding van munisipale geriewe is onaanvaarbaar.

“Ek was reeds in gesprek met die komitee van Eden Swem om te pro­beer verseker dat die uiters belang­ri­ke Freda Barnard Swemgala vol­gende jaar weer na Oudtshoorn terugkeer. Ek wil my dank betuig aan lede van die publiek wat reeds aangebied het om hand by te sit om die NA Smit-swembad op standaard te hou.

“Skenkings en die bereidwilligheid van indivi­due en organisasies om te help, getuig van ’n posi­tie­we gesindheid en begrip van die uitdagings vir die munisipaliteit. Lede van die pu­bliek wat hulp wil verleen en betrok­ke wil raak by inisiatiewe om sport­geriewe te verbeter, kan Dave van der Walt van die Oudtshoorn Sportinisia­tief kontak by 082 773 4901 of Ian Laubcher van die munisipaliteit se sport­raad by 044 203 3976.”

Luidens ’n persverklaring wat Woensdagoggend aan Die Hoorn gestuur is, is Macpherson positief oor Oudtshoorn se sporttoekoms.

“Buiten die uitdagings wat ons tans in die gesig staar, is dit bemoedigend om te sien hoeveel sportgeleenthede steeds met groot sukses op die dorp aangebied word.

“Oor die afgelope naweek is dui­sende mense na Oudtshoorn en De Rust gelok om deel te neem of ondersteuning te bied by die Timbercity Fietsren en Meiringspoort Marathon.”

• Einde Januarie vanjaar het die Groter Oudts­hoorn-raad by ’n spesiale raadsverga­dering eenparig ’n mosie van Johan Allers (VF Plus) aanvaar dat dringend aandag geskenk moet word aan die toestand van veral die NA Smit-swembad “voordat organi­seer­d­ers van groot byeenkomste besluit om elders heen te gaan, soos byvoorbeeld na George.”

Met ’n besoek van Die Hoorn aan die swembad Dinsdag was ’n span druk besig om dit skoon te maak, te herstel en op te kikker.
• Lees ook: https://www.diehoorn.com/hoofartikels/miljoene-verlore-met-swemgalas-wat-na-jare-se-troebel-water-en-swak-instandhouding-skuif/. (Deur Stefan Skapie Goosen)