’N GROEP tuinliefhebbers van so ver as Swellendam en Barrydale het Sondag Nasionale Tuindag in die ongerepte natuur van Seweweekspoort gevier.
Desmond Sauer (59), afgetrede opvoeder wat in die Zoar-omgewing woon, is iemand wat poog om op sy plasie, Waterval EcoStay, so na as moontlik aan die natuur te leef. Sauer bedryf hier ’n organiese tuin met die hulp van plaaslike tuinliefhebbers.
“Met die naderende Tuindag het ek op ’n dag die visie gekry om ’n paar mense hier op die plaas bymekaar te kry en gewoon net saam die natuurskoon te geniet en bietjie te ontspan. Ek het die idee op my Facebookblad gelaai en hier sien jy self die reaksie,” het Sauer Sondag vertel.
Hy het ’n plaaslike skilder, Algernon Kennel, genader om van sy skilderye te kom uitstal.
Sauer het sy gaste met boeretroos en vars gebak van die plaaslike gemeenskap bederf.
Dorette Smith, een van die gaste, het Sauer geloof vir ’n aangename dag en sy visie om die natuur nie net te bewaar nie maar ook met ander te deel. (Deur Deon Meyer)
Nasionale Tuindag in Seweweekspoort!
Ontspanne gaste by Waterval EcoStay se Tuindagvieringe. Foto: Deon Meyer