Miljoene verlore met swemgalas wat ná jare se troebel water en swak instandhouding skuif

Die NA Smit Swembad op Oudts­hoorn tydens ’n swemgala in Janua­rie (bo, foto verskaf) en die Conville Swembad op George die naweek tydens ’n swemgala (regs, foto: George Munisipaliteit Facebook)

DIE Groter Oudtshoorn-raad het Maandag by ’n spesiale raadsverga­dering eenparig ’n mosie van raadslid Johan Allers (VF Plus) aanvaar dat dringend aandag geskenk moet word aan die toestand van veral die NA Smit-swembad “voordat organiseer­d­ers van groot byeenkomste besluit om elders heen te gaan, soos byvoorbeeld na George.”

Maar is dié mosie te laat?

Die Hoorn berig al jare lank oor gebrekkige instandhoudings­werk en leierskap by veral die NA Smit-swembad, ’n Olimpiesestandaard-swembad waar groot swemgalas met duisende topswemmers oor dekades miljoene rande vir Oudtshoorn en sy mense die dorp laat invloei het.

Net so waarsku sportadministrateurs al jare lank dat die onvoldoen­de instandhouding van die swembad die galas uit Oudtshoorn sal dryf.

Galas skuif reeds na George
Daar is reeds sprake dat die Conville Swembad op George die nuwe tuiste van velerlei swemgalas kan word nadat ’n suksesvolle gala van Eden Aquatics die afgelope naweek daar plaasgevind het.

Die water was helder en die elektroniese tydtoestelle (touch pads) by die eindpunt het gewerk – anders as twee weke gelede toe ’n vorige groot gala van Eden Aquatics op Oudtshoorn plaasgevind het.

By die Oudtshoorn-gala middel Januarie by die NA Smit-swembad was die water egter so troebel dat swemmers nie die strepe op die bodem kon sien nie en het die elektroniese tydtoestelle by die eindpunt nie gewerk het nie.

Ouers het glo gekla oor dié omstandighede en gesê hulle kom nie weer terug Oudtshoorn toe nie.

En so kan die miljoene rande wat so ’n gala vir ’n dorp kan inbring, Oudtshoorn se verlies en George se wins word.

Allen Paulse, direkteur gemeenskapsdienste, by die George Munisipaliteit met die swembaddens as deel van sy portefeulje, het gister aan Die Hoorn bevestig dat drie streeks- of nasionale swemgalas van Eden Aquatics in Februarie en Maart by die Conville Swembad aangebied sal word.

Paulse sê George sal die geleent­heid aangryp om die swemmers en hul gesinne op George te ontvang en waar moontlik by te staan.

Volgens die gesoute sportadministrateur en operasionele bestuurder van Eden Tweekamp en Biath­lon, Dave van der Walt, dui berekenings dat die swemgalas elk tussen R3,5 en R4,5miljoen in Oudtshoorn se ekonomie ingepomp het – ’n ekonomiese inspuiting waarvoor ’n dorp wat tans sukkel om kop bo water te hou ná ’n jarelange droogte en die uitdagings van ’n pandemie nie nee kan sê nie.

Dit is geld wat Oudtshoorn en sy mense en hul gesinne bevoordeel – van tydelike wer­kers tot die toeristebedryf met verblyfplekke, restaurante en ander besighede wat hul deure kan oophou en personeel kan betaal.

Terug na Allers se mosie
Volgens dié belangrike mosie moet die munisipaliteit dringend aandag skenk aan munisipale sportgeriewe, moet ’n komitee saamgestel word uit moontlik die munisipale bestuurder en ander raadslede om in gesprek te tree met sportliggame oor hoe kwes­sies so spoedig moontlik aangespreek kan word, moet die munisipale bestuurder ondersoek instel na die be­stuur van hierdie geriewe, en moet daar veral vroegtydig gekyk word na die toestand en kwaliteit van die NA Smit-swembad voor byeenkomste om te verseker die munisipaliteit kan betyds ingryp indien nodig en nie verdere byeenkomste verloor nie.

Die mosie is gesekondeer deur raadslid Christina Muller.

Die Hoorn hoop die mosie sal tot positiewe optrede lei sodat Oudts­hoorn, die inwoners en hul kinders kan baat by die sportgeriewe van ons dorp. Moet ook nie die dorp se tartanbaan vergeet nie, want daar kort ook dringende aandag. Na verneem word is ’n soortgelyke baan glo reeds in die pyplyn vir langs die kus.

Swembadprobleme kom al lank

Die Hoorn berig al etlike jare oor probleme met die watergehalte en instandhouding by die NA Smit-swembad om die kollig daarop te laat val sodat aandag daaraan geskenk kan word.

Uit berig ná berig egter blyk ’n klaarblyklike onvermoë of gebrek aan beplanning of bestuursvaardighede om dié infrastruktuur in stand te hou.

Verlede jaar het die water wel beter gelyk, byna soos in die verre verlede, maar die volgende opskrifte van die voorafgaande jare klink soos ’n plaat wat vasgehak het:

• Dorp kan miljoene verloor agv toestand van NA Smit-swembad (23 Januarie 2020);
• Rooi gesigte ná top-swemmers troebel water moet aandurf (4 April 2019);
• Oppas om ’n werkskepper met die swembadwater uit te gooi (4 Oktober 2018);
• Groen swembad-verleentheid (19 Oktober 2017).
Lees gerus hierdie berigte op die internet by diehoorn.com

Highgate vind wel plaas, maar Oudts­hoorn verloor ook SA Tweekamp
Van der Walt het by navraag gesê die Suid-Afrikaanse Tweekampkampioenskap wat in Maart/ April by die NA Smit-swembad op Oudtshoorn sou plaasvind, is intussen na Gqeberha verskuif; ook as gevolg van die huidige omstandighede by die swembad.

Die jaarlikse Highgate Interprovinsiale Tweekampioenskap vind wel die naweek op Oudtshoorn by die NA Smit-swembad plaas, met die groot bekommernis tans die elektroniese tydtoestelle wat nie werk nie.

Van der Walt is ook bekommerd oor die agteruitgang van die tartanbaan. Daar is heelwat toerusting gesteel omdat daar geen sekuriteit by die terrein is nie; onder meer die luid­sprekerstelsel, lugversorging in die aankondigingshokkie. Die baanoppervlak het glo ook instandhoudingswerk nodig.

Hy sê hy het sy hande die afgelope jare tot stompies afbaklei om sportgeriewe op Oudtshoorn te laat opgradeer, maar dat niks gehelp het nie.

“Ek het selfs meer as een maal die Besigheidskamer hieroor toegespreek omdat die besigheidsektor ernstig geraak sal word as die galas nie meer plaasvind nie.

“Oudtshoorn het van die beste sportgeriewe in die land, maar dit is van geen waarde as instandhouding nie verbeter en dit beter opgepas word nie.” (Deur Liesel le Roux en Stefan Skapie Goosen)

3 Comments on "Miljoene verlore met swemgalas wat ná jare se troebel water en swak instandhouding skuif"

  1. Heilene | 02/06/2022 at 14:39 |

    As a biathlon parent, it was shocking to see the state of the swimmingpool especially! Kids could not see the side of the pool to do tumble turns. Some physically had to pop their heads out of the water as they came closer to judge where the wall was.

    The touch pads were not even in the pool!

    Dive Podiums were extremely slippery as it was painted over with an enamel like paint.

    My son’s finger got cut open on the dive podium, while practicing his diving during the warm up time. There were no plasters in the first aid kit at the pool, just bandages and cotton wool! Shocking as so many accidents can happen at a pool!

    The Highgate Inter Provincial is one of the highlights of the biathlon season, as the athletes are excited to compete in Oudtshoorn!

    Hopefully something can be done to sort out all the problems at the pool and track!

  2. Ek dink hierdie move is meer polities as enigiets anders. Ek het 2 weke gelede by NH geswem en kon goed tot opi bobem sien, maar moet se die bad kon beter wees. Maar ek dink die move is gebaseer op wie die munisipaliteit beheer. En dis vimy geen verassing dat die DA beheerde GM sulke goed sal gebruik om die alreeds gehamperde CGM nog verder in die afgrond te druk. En dis reeds die DA wst Oudtshoorn het waar hy is. Nee, wat ons stryd duur voort teen wit dominansie.

  3. andre barnard | 02/03/2022 at 11:32 |

    Interessant dat mnr. Paulse nou iets te sê het. Swembad verval het onder sy bestuur begin as MB.

Comments are closed.