Deon Meyer-rolprent hier geskiet

Die hond Neelsie, Cobus van den Berg, Jorrie van der Walt en Tim Theron buite Oudtshoorn by die Eurocopter Écureuil wat vir tonele in die rolprent gebruik word. Foto: Angelique Erasmus

TONELE vir ’n aksiebelaaide rolprent ge­baseer op ’n boek van die bekende misdaadskrywer Deon Meyer, word tans in die Oudtshoorn-omgewing geskiet.

Talle bekende akteurs tree in dié rolprent op; onder hulle verskeie gewilde sepiesterre wat daagliks op die kassie te sien is.

“Daar is lekker jaag- en ontploffings­tonele in die rolprent,” vertel Tim Theron, bekende akteur wat een van die hoofrolle vertolk en ook een van die vervaardigers van die rolprent is. Hy sal onder meer in van die aksietonele te sien wees.

Dié rolprent sal een van die dae in ky­kers se sitkamers beskikbaar wees, maar die naam daarvan en die stroomdiens­maat­skappy daarby betrokke, is vir eers ’n geheim.

Die rolprent word in Engels verfilm, maar daar sal wel ’n hele paar Afrikaanse woorde tydens die rolprent geuiter word, voeg Theron laggend by.

“Ons is reeds twee jaar besig om hier­die projek aanmekaar te sit, en is tans besig om vir ’n week in Oudtshoorn to­nele te skiet,” sê Cobus van den Berg van Scene 23, ’n Suid-Afrikaanse produksiemaatskappy.

Scene 23 behoort aan Van den Berg, Theron, Meyer, Jorrie van der Walt en Tracey Lange.
Hy sê die rede hoekom juis Oudtshoorn gekies is, is omdat die omgewing so ’n groot verskeidenheid bied. “Dis soos ’n hele wêreld in een plek!”

Volgens hom sal Oudtshoorniete baie van die plekke herken waar tonele geskiet is, soos die Raubenheimerdam.

“Ons hou baie van die Klein Karoo en sy mense. Die ondersteuning is fantasties en juis daarom het ons besluit om in die area te kom skiet.

“Die film het ’n lekker groot begroting gehad, en ’n hele paar plaaslike inwoners kon hul lywe akteur hou en as ekstras daarin optree.” (Deur Angelique Erasmus)