DIE bekende akteur, en sanger kom Oudtshoorn vermaak met klanke van blikke, baarde en sakke vol truuks.
Hierdie ryk, anderwêreldse vertoning bied van die mees begaafde musici wat ons pragtige land in aanbod het, en met die onkonvensionele, rasperige, aweregse Neil Sandilands aan’t stuur van sake, is jy in vir ’n ding!
Sandilands is bekend vir ondermeer sy rol as Bart in 7de laan, maar het selfs ’n draai in die bekende en gewilde Netflix reeks “Sweet Tooth” as die booswig “General Douglas Abbot” gemaak wat tans twee seisoene uitgereik het.
Sandilands het ook onlangs sy tweede vollengte album “Allegaarkie vir ’n Askeet” uitgereik. Snitte soos “Huistoe”, “Stilte wat Raas” en “Kômmôsêdiesê” speel tans oor die luggolwe en moenie van die wonderlike liedjie “Woestynroos” vergeet, wat hy vir die uitmuntende M-Net reeks “Desert Rose” geskryf het nie. Hierdie vorm alles ook deel van sy uitvoering.
“Ek kom met ’n pouveer, a-la- “Boerneef”. Ek weet julle het volstruisvere, maar dit beteken nie dit kan nie gepluk word nie.
Kom ons vergelyk vere, want, die vere maak die voël. Sien jou Maandag, 3 Julie.
Dis ’n date,” het Sandilands aan Die Hoorn gesê.
Sy vertoning vind Maandag 3 Julie 2023 by Route 62 op Oudtshoorn plaas, loer gerus hieronder na die advertensie vir meer inligting.
Kontak Route 62 by 044 203 5460 om te bespreek. (Deur Angelique Erasmus)
“Sweet Tooth”-boef te sien op Oudtshoorn
Bo: Bekende akteur en sanger, Neil Sandilands
Bo: bekende akteur Neil Sandilands kom in Oudtshoorn kuier op 3 Julie 2023. Foto: Patrick Toselli