Sprinkane tans in provinsie onder beheer, maar kan terugkeer

HOEWEL sprinkaanswerms in die Wes-Kaap nie tans ’n probleem is nie, is daar steeds ’n gevaar dat sulke swerms kan terugkeer na die provinsie, sê die Wes-Kaapse minister van landbou, Ivan Meyer.”

Dié sprinkane het intussen in groot swerms na die Oos-Kaap beweeg.

Die Wes-Kaapse regering het drie weke gelede, toe die Klein Karoo ook onder swerms sprin­ka­ne deurgeloop het, R5 miljoen beskikbaar gestel om sprinkane in die Sentraal Karoo Distrik en Tuinroete Distrik te beveg. Die Klein Karoo maak deel uit van die Tuinroete Distrik.

Volgens Meyer het sprinkaanswerms in die Tuinroete Distrik, Murraysburg en Beaufort-Wes afgeneem en is geen sprinkaanswerms die afgelope week by Laingsburg, van waar sprinkane die Klein Karoo binnegekom het, aangemeld nie.

“Een swerm is in Prins Albert ge­sien, en twee swerms in Merweville. ’n Groot swerm wat in ’n suid-oostelike rigting beweeg het, is 30 km oos van Beaufort-Wes gesien.”

Meyer sê daar is kommer oor die groot swerms in die Oos-Kaap en die feit dat eiers tans dormant in die Wes-Kaap lê en in ideale weersomstan­dighede kan uitbroei.

Hy sê tans werk die Wes-Kaapse Departement Landbou en die Provinsiale Rampbestuursentrum aan ’n ver­­slag oor die omvang van die verliese in die provinsie. Sodra dit gefinaliseer is, sal die Wes-Kaap die

Na­sionale Rampbestuursentrum na­der vir optrede in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap.

“Die Wes-Kaap sal voortgaan om ’n volhoubare oplossing te vind om die landbousektor in die Wes-Kaap te beskerm. Ons moet ’n naderende ramp voorkom,” sê Meyer. (Deur Liesel le Roux)