Diewe rig duisende rande se skade aan

Nolene Murphy by die muur voor haar huis wat onlangs erg beskadig is toe diewe die tralieheining op die muur gesteel het. (Foto’s verskaf.)

’N INWONER van Prinsstraat in Bridgton, Nolene Murphy, het duisende rande se skade gely toe diewe die tralies van die muur om haar huis afgesteel en in die proses boonop ’n stuk van die muur omgetrek het.
Leon Campher, ’n raadslid van die Groter Oudtshoorn en Murphy se broer, sê Murphy het baie moeite gedoen om haar huis met ’n muur en tralies te beveilig.

Campher sê dit was die derde keer in twee weke dat skelms in die vroeë og-gendure tralies op die muur kom steel het. Hy glo dit is dwelmgebruikers wat die tra-lies probeer verkoop om weer dwelms te kan koop.

Beeldmateriaal van ’n kamera in die straat wys hoe ’n man die betrokke nag die tralies uit die muur geruk het en die muur toe op hom val.

“Hy moes beserings opgedoen het,” sê Campher.

Volgens hom is die tralies spesiaal laat maak om op die muur te pas, en het dit sowat R5500 gekos. Die onkoste van die muur wat oorgebou moet word, moet ook nog by kom.

“Ek vra inwoners om my assebblief te kontak indien jy iewers soortgelyke tralies sien. Ek sal dit vertroulik hanteer. Solank ons net saam die boosdoeners uit ons gemeenskap kan hou voordat iemand anders onder hulle deurloop.”

Campher kan gekontak word by selnommer 082 958 4348. (Deur Liesel le Roux)