Saayman vanaf volgende week in streekhof verhoor

DIE saak teen ’n man van Buffelsjachtsfontein in die Calitzdorp-distrik wat tereg staan op ’n klag van poging tot moord op ’n vrou wat aan hom bekend is, is in die Oudtshoorn Landdroshof vir verhoor na die streekhof oorgeplaas.

Johannes Mattheus Saayman (55) word daarvan aangekla dat hy die vrou op 26 Junie 2021 naby die Calitzdorp-sementpad met die vuis ge-slaan, getrap en gewurg het.

Hy het in ’n beëdigde verklaring erken dat hy die vrou ken en sy by ’n vorige geleentheid ’n beskermingsbevel teen hom verkry het.

Landdros Vaughen Shone het sy borgtog van R5 000 asook sy borg­voor­waardes tot 13 April verleng wanneer hy sy eerste verskyning in die streekhof sal maak.

Hy mag nie kontak maak met die klaer nie, nie by verdere misdaad betrokke raak nie en wegbly van die klaer se huidige woonadres op Oudts­hoorn.

Hy word deur Christo van der Bergh van Coetzee en Van der Bergh verteenwoordig. (Deur Garnett Wicomb)