Weens Covid-regulasies slegs 50 kaartjies vir elk van twee vertonings beskikbaar
UITEINDELIK, ’n opera op Oudtshoorn!
Suid-Kapenaars kan van vandag af kaartjies koop vir een van die wêreld se gewildste operas, La Bohème, wat op 18 en 19 September deur Klein Karoo Klassique en die KKNK na Oudtshoorn gebring word. Vertonings vind die Saterdag om 19:00 en die Sondag 19 om 15:00 plaas.
Die vertonings op Oudtshoorn maak deel uit van ’n nasionale toer deur Kaapstad Opera.
Die komponis Puccini se La Bohème is bekend en geliefd vir die tragiese verhaal en meesleurende musiek.
“Ons is baie opgewonde om Afrika se voorste operageselskap vir twee uitvoerings op Oudtshoorn te verwelkom,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Klassique en die KKNK. “Dit is wonderlik om ’n opera in die streek aan te bied en so een van die beste klassieke musiekervarings na Oudtshoorn te bring.”
Jeremy Silver, musiekregisseur van die produksie, sê La Bohème bly een van die top vyf werke wat wêreldwyd die meeste uitgevoer word.
Omdat die produksie deur die land sal toer en ook op kleiner verhoë soos op Oudtshoorn aangebied sal word, sal die orkes kleiner wees en sal daar ook nie ’n koor saamtoer nie.
Dié vertoning mag egter nie misgeloop word nie, sê Lize Thomas, waarnemende artistieke direkteur van Kaapstad Opera.
La Bohème vertel die verhaal van die boheemse lewe van ’n groep jong vriende; onder meer die aangrypende, gedoemde liefdesverhouding tussen Rodolfo en die brose Mimì.
Sewe bekende, jong Suid-Afrikaanse operasangers sal die sleutelrolle in die opera vertolk: Lukhanyo Moyake as Rodolfo, Zandile Mzazi as Mimì, Bongani Kubheka as Marcello, Ané Pretorius as Musetta, Lwazi Dlamini as Schaunard, Conroy Scott as Colline en Garth Delport as Alcindoro.
Die produksie se regisseur is Magdalene Minnaar, met ontwerp deur Bettina John en beligtingsontwerp deur Stefan Benade. Silver behartig die musiekregie.
La Boheme sal in die Oudtshoorn Burgersentrum op die planke wees. In ooreenstemming met huidige Covid-19-regulasies is slegs 50 kaartjies per optrede beskikbaar.
• Koop kaartjies teen R250 per persoon by Quicket (https://qkt.io/LaBoheme).
Alle Covid-19-regulasies sal nagekom word en lede van die gehoor moet te alle tye ’n masker dra.
